Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:29-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. Josua het die koning van Ai aan ’n boom opgehang. Hy het hom daar laat hang tot die son ondergegaan het. Josua het toe opdrag gegee om sy liggaam van die boom af te haal. Hulle het dit in die ingang van die stad gaan gooi en dit met ’n groot hoop klippe toegepak. Dit is vandag nog daar.

30. Josua het daarna ’n altaar op die Ebalberg vir die Here, die God van Israel, gebou.

31. Hy het dit gebou soos Moses, die dienaar van die Here, dit vir die Israeliete voorgeskryf het. So staan dit geskryf in die wetboek van Moses: “Maak vir my ’n altaar met klip wat nie met ’n ysterinstrument bewerk is nie.” Hulle het op die altaar brandoffers vir die Here gebring en ook maaltydoffers geoffer.

32. Terwyl die Israeliete staan en kyk, het Josua ’n afskrif van die wet van Moses op die altaar se klippe uitgraveer.

33. Al die Israeliete, sy leiers, sy beamptes en sy regters, is in twee groepe aan weerskante van die ark verdeel. Daar was vreemdelinge sowel as burgers. Een deel het aan die voet van die Gerisimberg gestaan en die ander deel onder die Ebalberg. Hulle het na mekaar gekyk met die Levitiese priesters wat die ark dra tussen hulle. Dit was soos Moses, die dienaar van die Here, vroeër beveel het, toe hy bepaal het dat die volk Israel die seën moet ontvang.

34. Josua het toe vir hulle alles wat die wet sê oor seën en straf voorgelees, soos in die boek van die wet geskryf staan.

35. Josua het voor almal van Israel wat daar bymekaar was, vroue en kinders en vreemdelinge wat saam met hulle gebly het, alles gelees wat Moses beveel het. Hy het niks uitgelaat nie.

Lees volledige hoofstuk Josua 8