Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:17-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Die stad is ’n banoffer vir die Here. Die stad en alles wat daarin is, moet heeltemal uitgewis word. Die prostituut Ragab en almal wat by haar in die huis is, moet bly lewe. Sy het die verkenners wat ons uitgestuur het, weggesteek.

18. Bly weg van die goed wat vernietig moet word sodat julle nie julleself onder die ban bring nie. Moenie enigiets vat van die goed wat aan die Here behoort nie. Julle sal die kamp van Israel ’n banvloek maak. Julle sal onheil daaroor bring.

19. Alles wat van silwer en goud gemaak is en al die brons- en ystergoed behoort aan die Here. Alles moet in die skatkis van die Here kom.”

20. Toe die volk hoor dat die ramshorings die teken gee, het hulle die aanvalskreet uitgeskreeu. Die mure het inmekaargestort. Almal het oorgeklouter, reguit die stad in. Hulle het die stad ingeneem.

21. Hulle het alles in die stad met die swaard uitgewis: mans en vroue, oud en jonk, selfs die beeste, die skape en die donkies.

22. Josua het vir die twee mans wat die land kom verken het, gesê: “Gaan na die prostituut se huis toe en bring die vrou met almal wat by haar is daar uit, soos julle haar beloof het.”

23. Die twee verkenners het gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en hulle gesinne en haar familie uitgebring. Die mans het hulle na ’n veilige plek buite die kamp van Israel gebring.

24. Hulle het die stad met alles wat daarin was, verbrand. Die goed wat van silwer en goud gemaak was en die brons- en ystergoed het hulle egter in die skatkis van die Here se heiligdom gaan sit.

25. So het Josua die prostituut Ragab en haar familie wat saam met haar in die huis was, laat bly leef. Sy het haar tussen die Israeliete gevestig tot vandag toe. Sy het die mans wat Josua gestuur het om Jerigo te gaan verken, weggesteek.

26. In daardie tyd het Josua ’n eed afgelê: “Die Here vervloek die man wat die stad Jerigo probeer herbou. As hy weer sy fondament probeer lê, sal dit hom sy oudste seun kos. As hy die deure van die poorte weer probeer insit, gaan hy sy jongste seun verloor.”

27. Die Here was met Josua. Josua het deur die hele land beroemd geword.

Lees volledige hoofstuk Josua 6