Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 5:9-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Die Here het vir Josua gesê: “Ek het vandag julle vernedering van Egipte van julle af weggerol.” Josua het daardie plek toe Gilgal genoem. Dit is vandag nog sy naam.

10. Toe hulle die Paasfees gevier het, was die Israeliete nog steeds by Gilgal op die vlakte by Jerigo. Hulle het dit op die veertiende dag van die maand teen die aand gevier.

11. Die volgende oggend het hulle ongesuurde brood en gebraaide koring geëet wat in Kanaän geoes is.

12. Op daardie dag dat hulle van die opbrengs van die land Kanaän begin eet het, het die manna opgehou. Die Israeliete sou nie meer manna eet nie. Van toe af het hulle die graan en vrugte begin eet wat in die land Kanaän geoes is.

13. Josua was in die omgewing van Jerigo toe hy skielik ’n man voor hom sien staan met ’n swaard in sy hand. Josua het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Is jy ons vriend of ons vyand?”

14. “Nie een nie,” sê die man, “ek is die aanvoerder van die hemelse leër. Ek is nou hier vir julle.” Josua het op die grond neergeval in aanbidding. Hy vra vir die man: “Wat wil Meneer vir sy dienaar sê?”

Lees volledige hoofstuk Josua 5