Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:10-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Ek wou nie na Bileam luister nie. Ek het gesorg dat hy julle eerder seën. Ek het julle uit Balak se mag gered.

11. “Julle het toe deur die Jordaan getrek en by Jerigo uitgekom. Die mense van Jerigo het teen julle geveg. Ook die Amoriete, Feresiete, Kanaäniete, Hetiete, Girgasiete, Hewiete en Jebusiete het teen julle oorlog gemaak. Ek het egter almal van hulle in julle mag oorgegee.

12. Ek het die twee Amoritiese konings voor julle uit verdryf. Julle het hulle nie met julle swaarde en julle boë oorwin nie.

13. “Ek het julle ’n land gegee waarvan julle nie die grond bewerk het nie, en ook nie sy stede gebou het nie. Julle bly nou daarin en julle leef van wingerde en olyfboorde wat julle nie self geplant het nie.

14. “Eer nou die Here en aanbid Hom met volle oorgawe en met getrouheid. Laat vaar die gode wat julle voorouers anderkant die Eufraat en in Egipte aanbid het. Dien die Here.

15. As julle nie die Here wil aanbid nie, moet julle vandag vir julleself besluit wie julle dan wil aanbid. Is dit die gode wat julle voorouers anderkant die Eufraat gedien het, of is dit die gode van die Amoriete in wie se land julle nou woon? Ek en my huisgesin sal die Here aanbid.”

16. Die volk het daarop reageer. Hulle het verklaar: “Ons sal nooit die Here los om ander gode te dien nie.

17. Dit is die Here ons God wat ons en ons voorouers uit die slaweplek van Egipte bevry het. Dit is Hy wat wonderlike tekens voor ons oë gedoen het. Dit is Hy wat ons langs die pad beskerm het toe ons tussen ander volke deur moes trek.

18. Dit is die Here wat al die volke voor ons uit verdryf het. Dit is Hy wat die Amoriete wat in die land woon voor ons laat padgee het. Ons sal ook die Here aanbid. Hy is ons God.”

Lees volledige hoofstuk Josua 24