Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Josua het al die stamme van Israel by Sigem laat bymekaarkom. Hy het al die leiers van Israel, hulle hoofde, hulle regters en hulle ampsdraers opgeroep om voor God te verskyn.

2. Josua sê toe vir die hele volk: “So sê die Here, die God van Israel: Julle voorouers, Tera, die pa van Abraham, en Nahor, het lank terug anderkant die Eufraatrivier gewoon. Hulle het afgode gedien.

3. Ek het julle vader Abraham van anderkant die Eufraat laat kom en hom deur die hele land Kanaän laat rondtrek. Ek het vir hom ’n groot nageslag gegee. Ek het vir hom Isak gegee.

4. Vir Isak het Ek Jakob en Esau gegee. Vir Esau het Ek die berge in Seïr gegee as sy eiendom. Jakob en sy seuns het afgetrek na Egipte toe.

5. “Ek het Moses en Aäron na julle toe gestuur. Ek het Egipte met groot rampe getref. Daarna het Ek julle daar laat uittrek.

6. Ek het julle voorouers uit Egipte bevry. Toe hulle by die Rietsee aankom, het Egipte hulle agternagesit met oorlogwaens en perde.

7. Julle vaders het na die Here geroep om hulle te help. Ek het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars. Ek het die see oor die Egiptenaars laat spoel en hulle het daarin verdwyn. Julle het met julle eie oë gesien wat Ek met die Egiptenaars gedoen het. Daarna het julle baie lank in die woestyn vertoef.

8. “Ek het julle toe in die land van die Amoriete laat kom wat oos van die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle oorlog gemaak. Ek het julle egter die oorwinning oor hulle gegee. Julle het hulle land ingeneem. Ek het hulle uitgewis om vir julle plek te maak.

9. “Toe het Balak, die seun van Sippor en koning van Moab, begin oorlog maak teen Israel. Hy het Bileam, die seun van Beor, laat kom om julle te vervloek.

10. Ek wou nie na Bileam luister nie. Ek het gesorg dat hy julle eerder seën. Ek het julle uit Balak se mag gered.

Lees volledige hoofstuk Josua 24