Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:20-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Was die Here nie briesend vir die hele gemeenskap van Israel toe Akan, die seun van Serag, ontrou was en van die goed van die banvloek gevat het nie? Hy was nie die enigste een wat deur sy sonde dood is nie.”

21. Die Rubeniete, die Gadiete en die mense van die halwe Manassestam het die hoofde van die familiegroep geantwoord:

22. “Die Here alleen is God, net die Here is God! Hy weet, en laat Israel ook weet dat julle nie vandag ons lewens moet spaar as ons dit uit opstand of met slegte bedoelings teen die Here gebou het nie.

23. Ons het nie die altaar gebou om ons rug op die Here te draai nie. As ons dit gebou het om daarop brandoffers, graanoffers en maaltydoffers te bring, moet die Here ons straf.

24. Ons het dit gebou omdat ons bekommerd was dat julle nageslag net oormôre vir ons nasate sal sê: ‘Wat het julle met die Here, die God van Israel, te doen?

25. Die Here het die Jordaanrivier as ’n skeiding tussen ons en julle van Ruben en Gad gestel. Julle het nie deel aan die Here nie!’ Julle nageslag sal dan ons nasate keer om die Here te dien.

26. Ons het daarom besluit om vir ons die altaar te bou, nie met die oog op brandoffers of diere-offers nie,

27. maar as herinneringsteken vir ons en vir julle en vir ons nageslagte ná ons, dat ons ook die reg het om die Here by sy heiligdom te gaan aanbid met ons brandoffers, ons ander diere-offers en ons maaltydoffers. Julle nageslag sal nie later vir ons nageslag kan sê: ‘Julle het geen deel aan die Here nie.’

28. Ons het by onsself gedink dat as hulle later so iets vir ons of ons nageslag sou sê, dan kan ons nageslag vir hulle sê: ‘Kyk na die afbeelding van die Here se altaar. Ons voorouers het dit nie vir brandoffers of diere-offers gebou nie, maar as ’n gedenkteken tussen ons en julle.’

Lees volledige hoofstuk Josua 22