Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 2:7-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Die koning se soldate het toe na die mans gaan soek langs die pad wat na die driwwe by die Jordaan loop. Net na die agtervolgers weg is, is die stad se poorte gesluit.

8. Voor die mans gaan slaap het, het die vrou na hulle toe opgeklim op die dak.

9. Sy het vir hulle gesê: “Ek weet dat die Here vir julle die land gaan gee. Ons is lam van die skrik. Almal van ons wat in die land woon, is bang vir julle.

10. Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het toe julle uit Egipte getrek het. Ook wat julle met Sihon en Og, die twee konings van die Amoriete, aan die oorkant van die Jordaan gedoen het en hoe julle hulle uitgewis het.

11. Ons het dit alles gehoor. Ons harte het ineengekrimp. Niemand van ons het meer moed oor om teen julle te veg nie. Die Here julle God is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.

12. Ek was goed vir julle. Sweer dan nou vir my voor die Here dat julle ook goed sal wees vir my familie. Gee vir my die versekering

13. dat julle my pa en my ma, my broers en susters en hulle families se lewens sal spaar wanneer julle Jerigo aanval.”

14. Die mans sê toe vir haar: “Ons lewens is julle versekering. As julle nie ons saak weggee nie, sal ons ons belofte hou wanneer die Here die land vir ons gee.”

15. Sy het op die muur gewoon. Haar huis was daar gebou. Sy het hulle met ’n tou deur die venster laat afsak.

16. Haar raad vir hulle was: “Vlug na die berge toe sodat julle agtervolgers julle nie in die hande kan kry nie. Kruip drie dae lank daar weg totdat die agtervolging verby is. Julle kan daarna weer julle koers kry.”

17. Die mans het vir haar gesê: “Ons sal die belofte wat ons aan jou gemaak het, nakom.

18. Jy moet hierdie rooi tou waarmee jy ons deur die venster gaan laat afsak aan die venster vasbind wanneer ons in die land kom. Jy moet dan jou pa en jou ma, jou broers en jou hele familie hier in jou huis laat bymekaarkom.

Lees volledige hoofstuk Josua 2