Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 11:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Koning Jabin van Hasor het van Josua se veldslae gehoor. Hy het boodskappe na Jobab, koning van Madon, gestuur en ook na die konings van Simron en Aksaf.

2. Sy boodskappe het ook uitgegaan na die konings in die noordelike heuwelgebied, dié in die Jordaanvallei suid van die See van Galilea, in die kusvlakte en in die heuwels van Dor by die Middellandse See,

3. die Kanaäniete – oos en wes – die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die heuwelgebied en die Hewiete aan die hange van die Hermonberg in die Mispegebied.

4. Almal het met hulle leërs en perde en strydwaens saamgetrek vir oorlog teen Israel. Hulle was so baie soos die sandkorrels op die strand.

5. Al hierdie konings het ’n bondgenootskap gesluit. Hulle het almal by die Meromwaters bymekaargekom en reggemaak om teen Israel te gaan veg.

6. Die Here het toe vir Josua gesê: “Jy moenie vir hulle bang wees nie. Môre hierdie tyd sal Ek hulle aan Israel oorgee en dan sal hulle almal dood wees. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”

7. Josua en sy hele mag het na die Meromwaters opgeruk en hulle in ’n verrassingsaanval oorval.

8. Die Here het vir Israel die oorwinning gegee. Hulle het die vyand agtervolg tot by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en tot in die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei totdat daar nie een oor was nie.

9. Josua het gemaak soos die Here gesê het en hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.

10. Josua het toe omgedraai en Hasor ingeneem. Hy het sy koning met die swaard doodgemaak. Hasor was destyds die hoofstad van al die omringende koninkryke.

11. Hulle het elke lewende wese in die stad doodgemaak en niemand gespaar nie. Josua het die stad afgebrand.

12. Hy het ook al die omringende dorpe ingeneem en hulle konings en inwoners uitgewis. Dit was soos Moses, die dienaar van die Here, beveel het.

Lees volledige hoofstuk Josua 11