Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 48:26-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. “Maak Moab dronk, want hulle is arrogant teenoor My, die Here. Laat Moab in hulle braaksel rol sodat ander hulle sal spot.

27. Moab, het jy nie met Israel die spot gedryf nie? Het jy dan nie Israel verag soos iemand wat tussen diewe betrap is nie?

28. Burgers van Moab, vlug uit julle dorpe! Gaan woon in rotsskeure soos duiwe wat hulle neste maakin die grotte.

29. “Ons het gehoor van Moab se trots en gespog. Hulle was hoogmoedig, arrogant, vermetel en hooghartig.

30. Ek weet van Moab se verwaandheid,” sê die Here. “Maar al hierdie grootpratery loop op niks uit nie, dit is vals.

31. Daarom huil Ek oor Moab. Ek treur oor die mense van Kir-Geres.

32. Ek treur meer oor jou as oor Jaser,wingerd van Sibma. Jou wingerdranke het vroeër tot by die Dooie See gestrek,tot by Jaser. Maar nou het die onderdrukkers julle kaalgestroop. Hulle het op julle somervrugte en druiwe toegesak.

33. Blydskap en vreugde het verdwyn uit die boorde en die landerye van Moab. Ek het gesorg dat die wynpersnie meer wyn voorsien nie. Mense gesels ook nie meer opgewek terwyl hulle druiwe pars nie. Daar is mense wat uitroep, maar nie van blydskap nie.

34. Om die waarheid te sê, die mense gil en skreeu van angs omdat hulle bang is.’n Mens kan die krete hoor van Gesbon tot aan die ander kant by Elale en Jahas,van Soar af tot by Gonorajim en Eglat-Selisija. Selfs die waters van Nimrim het nou opgedroog.”

35. Die Here sê: “Ek sal ’n einde maak aan Moab,want hulle bring offers vir afgode en brand wierook vir vals gode.

36. My hart kla van smartsoos ’n fluit vir Moab en ook vir die mense van Kir-Geres. Want al hulle rykdom het verdwyn.

37. Hulle skeer almal hulle koppe en baarde omdat hulle rou. Hulle maak snymerke aan hulle hande en dra klere van sak.

38. Oral in Moab is mense in rou. Hulle doen dit op die dakke van hulle huise en op die pleine. Hulle doen dit, sê die Here, omdat Ek Moab gebreek het soos ’n kleipotwat niemand meer gebruik nie.

39. Ag, hoe stukkend is hulle nie! Hoor hoe huil hulle! Moab is soos mense wat die rug wegdraai van ander omdat hulle skaam is. Moab se bure dryf die spot met hulle. Hulle skrik as hulle al die verwoesting sien.”

40. Die Here sê: “Kyk, ’n arend duik neer en sprei sy vlerke oor Moab.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 48