Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 41:10-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Ismael het ook die res van die mense in Mispa gevang. Onder hulle was die koning se dogters. Nebusaradan, hoof van die koninklike lyfwag, het al hierdie mense onder die sorg van Gedalja in Mispa gelaat. Ismael het hulle saam met hom gevat en in die rigting van die Ammoniete begin trek.

11. Maar Joganan seun van Kareag en die groep soldate wat saam met hom was, het gehoor van die gruwels wat Ismael gedoen het.

12. Hulle het toe al die mans saam met hulle geneem om teen Ismael te veg. Hulle het hom by die groot dam naby Gibeon aangetref.

13. Toe die mense wat Ismael gevang het Joganan en sy offisiere sien, was hulle baie bly.

14. Al die mense wat Ismael in Mispa gevange geneem het, het ontsnap en na Joganan toe oorgeloop.

15. Intussen het Ismael en agt van sy volgelinge Joganan ontglip en na die Ammoniete gevlug.

16. Joganan en sy offisiere het al die mense weggelei wat hulle uit Ismael se hande gered het. Hierdie was mense wat in Mispa oorleef het nadat Ismael Gedalja seun van Agikam doodgemaak het. Onder hulle was soldate, vroue, kinders en paleisamptenare wat hy uit Gibeon saamgebring het.

17. Hulle het vertrek en by Gerut-Kimham naby Betlehem oorgebly. Van daar sou hulle na Egipte toe gaan.

18. Hulle was bang vir wat die Babiloniërs sou doen omdat Ismael Gedalja vermoor het. Dit was dan juis die Babiloniese koning wat vir Gedalja as goewerneur van Juda aangestel het.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 41