hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 41 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gedalja word vermoor

1. In die middel van herfs daardie jaar het Ismael en tien van sy mense by Gedalja in Mispa aangekom. Ismael was die seun van Netanja en die kleinseun van Elisama. Hy was van koninklike afkoms en een van die koning se offisiere. Terwyl hulle in Mispa saam met Gedalja geëet het,

2. het Ismael en sy manskappe opgespring en Gedalja met ’n swaard doodgesteek. Die koning van Babel het Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, as goewerneur oor die land aangestel.

3. Ismael het al die Jode wat daar by Gedalja in Mispa was, doodgemaak. Hy het ook die Babiloniese soldate wat by Gedalja was, vermoor.

4. Die volgende dag, nog voordat iemand iets van Gedalja se moord gehoor het,

5. het 80 mans uit Sigem, Silo en Samaria aangekom. Hulle baarde was afgeskeer, hulle klere in repies geskeur en hulle het hulleself gesny soos hulle gerou het. Hulle was op pad na die tempel toe om vir die Here graanoffers te bring en ook wierook te brand.

6. Ismael het uit Mispa gegaan om hulle te ontmoet terwyl hy droewig gehuil het. Toe hy by hulle kom, sê hy: “Kom kyk wat het met Gedalja seun van Agikam gebeur!”

7. Toe hulle in die middel van die stad aankom, het Ismael en die manne saam met hom 70 van die 80 doodgemaak. Hulle het die lyke in ’n put gegooi.

8. Die tien wat oorgebly het, het Ismael gesmeek om hulle nie dood te maak nie. Hulle het belowe dat hulle vir hom die koring, gars, olie en heuning sou gee wat hulle in die veld versteek het. Hy het hulle toe nie doodgemaak nie.

9. Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ’n groot put gegrawe om water op te vang. Ismael seun van Netanja het al die lyke van die mense wat hy by Gedalja vermoor het, in hierdie put gegooi. Die put was vol lyke.

10. Ismael het ook die res van die mense in Mispa gevang. Onder hulle was die koning se dogters. Nebusaradan, hoof van die koninklike lyfwag, het al hierdie mense onder die sorg van Gedalja in Mispa gelaat. Ismael het hulle saam met hom gevat en in die rigting van die Ammoniete begin trek.

11. Maar Joganan seun van Kareag en die groep soldate wat saam met hom was, het gehoor van die gruwels wat Ismael gedoen het.

12. Hulle het toe al die mans saam met hulle geneem om teen Ismael te veg. Hulle het hom by die groot dam naby Gibeon aangetref.

13. Toe die mense wat Ismael gevang het Joganan en sy offisiere sien, was hulle baie bly.

14. Al die mense wat Ismael in Mispa gevange geneem het, het ontsnap en na Joganan toe oorgeloop.

15. Intussen het Ismael en agt van sy volgelinge Joganan ontglip en na die Ammoniete gevlug.

16. Joganan en sy offisiere het al die mense weggelei wat hulle uit Ismael se hande gered het. Hierdie was mense wat in Mispa oorleef het nadat Ismael Gedalja seun van Agikam doodgemaak het. Onder hulle was soldate, vroue, kinders en paleisamptenare wat hy uit Gibeon saamgebring het.

17. Hulle het vertrek en by Gerut-Kimham naby Betlehem oorgebly. Van daar sou hulle na Egipte toe gaan.

18. Hulle was bang vir wat die Babiloniërs sou doen omdat Ismael Gedalja vermoor het. Dit was dan juis die Babiloniese koning wat vir Gedalja as goewerneur van Juda aangestel het.