Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 35:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Julle mag ook nie huise bou of graan of wingerde plant nie. Julle moet altyd in tente bly. As julle hierdie voorskrifte volg, sal julle lank in die land bly waar julle soos bywoners leef.’

8. Ons was nog altyd gehoorsaam aan die opdrag van Jonadab seun van Rekab, ons vader. Ons het niks gedoen wat hy ons beveel het om nie te doen nie. Ons het nog nooit wyn gedrink nie, nie ons of ons vroue, seuns of dogters nie.

9. Ons het ook nie huise gebou nie en ons besit geen wingerde, landerye of graan nie.

10. Ons bly in tente en gehoorsaam al die voorskrifte wat Jonadab, ons voorouer, vir ons gegee het.

11. Maar toe koning Nebukadnesar van Babel teen die land begin optrek, was ons bang vir die leërs van die Babiloniërs en die Arameërs. Ons het toe besluit om na Jerusalem toe te kom. Daarom bly ons nou in Jerusalem.”

12. Die Here het toe vir Jeremia ’n boodskap gegee:

13. “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Gaan na die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem en sê vir hulle: ‘Leer ’n bietjie ’n les hoe om aan My gehoorsaam te wees.

14. Die Rekabiete drink nie wyn nie omdat hulle voorvader Jonadab gesê het hulle moenie dit doen nie. “‘Ek het al keer op keer met julle gepraat, maar julle weier om na My te luister.

15. “‘Ek het al hoeveel keer my profete na julle toe gestuur om julle te waarsku om op te hou met julle verkeerde dade en om ander gode te aanbid. As julle dit sou doen, sou julle in rus en vrede kon bly in hierdie land wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het. Maar julle wou nie na My luister of My gehoorsaam nie.

16. “‘Die nageslag van Jonadab seun van Rekab het die bevele van hulle voorouers nagekom. Maar hierdie volk het geweier om na My te luister.’

17. “Daarom sê die Here God, die Almagtige, die God van Israel: ‘Omdat julle nie na My wou luister nie, sal Ek al die rampe waarmee Ek gedreig het oor die mense van Juda en Jerusalem bring. Dit sal gebeur omdat julle julle nie aan My gesteur het toe Ek julle geroep het nie, en julle het My ook nie geantwoord nie.’”

18. Maar aan die Rekabiete het Jeremia gesê: “Die Here die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Julle het julle voorvader Jonadab in alles wat hy gevra het, gehoorsaam. Julle het al sy voorskrifte nagekom en gedoen soos hy julle beveel het.

19. Omdat julle dit gedoen het, sal daar altyd nakomelinge van Jonadab wees wat My sal dien. Dit belowe Ek, die Here, die Almagtige, die God van Israel!’”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 35