Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 33:20-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. “As julle die verbond wat Ek met die dag en die nag gesluit het, kan verbreek sodat dit nie meer aanbreek nie,

21. dan en dan alleen sal Ek my verbond met my dienaar Dawid verbreek sodat daar nie meer ’n opvolger as koning op sy troon sal wees nie. Dieselfde geld my verbond met die Levitiese priesters wat in my diens staan.

22. Soos die sterre en die sand op die strande nie getel kan word nie, so sal Ek die nageslag van my dienskneg Dawid en die Leviete in my diens vermeerder.”

23. Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê:

24. “Het julle gehoor wat die mense sê? ‘Die Here het Juda en Israel gekies, maar nou verwerp Hy hulle weer! Omdat Hy dit gedoen het, kyk ander nasies met minagting neer op my volk. Hulle ag hulle nie langer as ’n nasie nie.’”

25. Maar die Here antwoord so: “Soos Ek nie die natuurwette van die nag en die dag of die aarde en die hemel sal verander nie, net so min sal Ek my mense verwerp.

26. Ek sal nie die nageslag van Jakob en my dienaar Dawid vergeet nie. Ek sal nie van plan verander dat iemand uit Dawid se nageslag oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob regeer nie. Ek sal hulle omstandighede verander en My oor hulle ontferm.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 33