hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Beloftes van vrede en voorspoed

1. Terwyl Jeremia nog in die binnehof van die wagte opgesluit was, het die Here weer vir hom ’n boodskap gegee:

2. “Die Here het die aarde gemaak en gevestig. Hy is bekend as die Here. Dit is sy boodskap:

3. Vra My, en Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel oor wat hier gaan gebeur, waarvan jy niks weet nie.

4. “Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: Dit was seker so dat julle boumateriaal nodig gehad het om die mure van die stad te versterk teen die stormwapens van die vyand. Daarom het julle van die huise in die stad en selfs dele van die koning se paleis afgebreek. Maar dit sal nie help nie.

5. Die Babiloniërs sal steeds die stad binneval. Baie mense in die stad sal doodgaan omdat Ek hulle in my woede sal tref. Die mense van die stad het soveel wandade gedoen dat Ek niks met hulle te doen wil hê nie.

6. “Maar neem kennis, die tyd sal aanbreek dat Ek die stad weer sal herstel en gesond maak. Ek sal haar voorspoedig en standvastig maak.

7. Ek sal die omstandighede van Israel en Juda verander en hulle sal die land weer opbou.

8. Ek sal hulle rein maak van die sonde wat hulle teen My gedoen het. Hulle het verkeerd gedoen en was opstandig teen My, maar Ek sal hulle daarvoor vergewe.

9. Die stad sal vir My baie blydskap, roem en eer voor al die nasies van die wêreld bring. Hierdie nasies sal van vrees bewe as hulle al die goeie dinge sien wat Ek vir my mense doen.”

10. Die Here sê: “Julle sê: ‘Hierdie plek is verwoes. Al die mense en die diere het verdwyn.’ Maar mense sal weer bly wees en vrolik lag in die leë strate van Jerusalem en in die dorpe van Juda waar nou geen mens woon of diere is nie.

11. Die vrolike stemme van bruidegomme en bruide sal weer opklink. Mense sal ook weer opgewekte liedere sing om hulle dankbaarheid teenoor die Here te bewys. Hulle sal by die tempel sing: “‘Bring lof aan die Here,die Almagtige, want die Here is goed. Sy liefde en trou hou nooit op nie!’“Ek sal die omstandighede in die land verander sodat dit weer soos vroeër sal wees,” sê die Here.

12. Die Here, die Almagtige, sê: “Hierdie land is nou leeg. Al die mense en die diere is weg uit al die dorpe. Maar daar sal weer herders wees wat hulle skape sal laat wei.

13. Daar sal weer groot skaaptroppe wees in die dorpe van die heuwelgebied, die Laeveld en die Negev in die suide, in die grondgebied van Benjamin, in die omgewing van Jerusalem en al die dorpe van Juda. Ek, die Here, sê dit sal gebeur!”

14. Die Here sê ook: “Die tyd breek aan dat Ek al die beloftes sal vervul wat Ek aan Israel en Juda gemaak het.

15. “Dan sal Ek ook ’n wettige erfgenaam van Dawid koning maak. Hy sal doen wat reg is en sorg dat regverdigheid in die land heers.

16. In dié tyd sal Hy Juda red en Jerusalem ’n veilige plek maak sodat mense daarin kan woon. En die mense sal die stad noem: ‘Die Here doen reg aan ons!’”

17. Die Here sê: “Daar sal altyd iemand op die troon van die huis van Israel sit as koning oor Israel.

18. Daar sal ook altyd Levitiese priesters wees wat brandoffers, graanoffers en ander offers vir My sal bring.”

19. Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

20. “As julle die verbond wat Ek met die dag en die nag gesluit het, kan verbreek sodat dit nie meer aanbreek nie,

21. dan en dan alleen sal Ek my verbond met my dienaar Dawid verbreek sodat daar nie meer ’n opvolger as koning op sy troon sal wees nie. Dieselfde geld my verbond met die Levitiese priesters wat in my diens staan.

22. Soos die sterre en die sand op die strande nie getel kan word nie, so sal Ek die nageslag van my dienskneg Dawid en die Leviete in my diens vermeerder.”

23. Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê:

24. “Het julle gehoor wat die mense sê? ‘Die Here het Juda en Israel gekies, maar nou verwerp Hy hulle weer! Omdat Hy dit gedoen het, kyk ander nasies met minagting neer op my volk. Hulle ag hulle nie langer as ’n nasie nie.’”

25. Maar die Here antwoord so: “Soos Ek nie die natuurwette van die nag en die dag of die aarde en die hemel sal verander nie, net so min sal Ek my mense verwerp.

26. Ek sal nie die nageslag van Jakob en my dienaar Dawid vergeet nie. Ek sal nie van plan verander dat iemand uit Dawid se nageslag oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob regeer nie. Ek sal hulle omstandighede verander en My oor hulle ontferm.”