Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:23-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “As Ek hulle terugbring uit hulle ballingskap, sal die mense in Juda en in hulle dorpe weer sê: ‘Die Here seën jou, tuiste van geregtigheid, heilige berg!’

24. Al die mense in die dorpe en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly.

25. Want Ek sal nuwe krag gee aan dié wat moeg is en die swakkes versterk.”

26. Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.

27. Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek die mense van Israel en Juda sal vermeerder. Ek sal ook die getalle van die diere vermeerder.

28. In die verlede het Ek hulle ontwortel en hulle afgebreek. Ek het hulle skade aangedoen en vernietig. Verder het Ek ook slegte dinge op hulle pad gebring. Maar in die toekoms sal Ek hulle weer opbou en hulle plant,” sê die Here.

29. “In daardie tyd sal mense nie langer sê nie: “‘Die ouers het suur druiwe geëet sodat die kinders se tande stomp geword het.’

30. “Mense sal weens hulle eie sonde doodgaan. Elkeen wat die suur druiwe eet, se tande sal stomp raak.”

31. Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek weer ’n nuwe verbond met Israel en Juda sal sluit.

32. Hierdie verbond sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte uitgelei. Hulle het my verbond verbreek, al het Ek hulle liefgehad soos ’n man sy vrou liefhet,” sê die Here.

33. “Maar so sal die nuwe verbond wees wat Ek na hierdie tyd met Israel sal sluit,” sê die Here. “Ek sal my wette in hulle gedagtes plant en op hulle harte skryf. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

34. Dit sal nie vir hulle nodig wees om vir hulle bure of familie te sê: ‘Ken die Here, leef soos die Here van julle verwag,’ nie. Almal, van die geringste tot die belangrikste, sal My reeds ken,” sê die Here. “Ek sal al hulle oortredings en hulle sondes vergewe. Ek sal nooit eers weer daaraan dink nie.”

35. Dit is wat die Here sê,Hy wat die son gemaak hetom in die dag te skyn, en die maan en die sterre om in die nag lig te maak. Dit is Hy wat die see onstuimig laat word om golwe te maak. Sy Naam is die Here,die Almagtige, en Hy sê:

36. “So min as wat Ek hierdie natuurwette sal verwyder, net so min sal die nageslag van Israel ooit ophou om my volk te wees!”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31