Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 29:19-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Dit sal gebeur omdat hulle hulle nie steur aan wat Ek sê nie. Ek het soveel keer my dienaars – die profete – na hulle gestuur, maar verniet,” sê die Here.

20. “Nou vra Ek julle almal wat Ek uit Jerusalem na Babel weggestuur het: Luister na die boodskap van die Here.

21. So sê die Here, die Almagtige, die God van Israel, oor Agab seun van Kolaja en Sedekia seun van Maäseja wat leuens in my Naam verkondig: Ek sal hulle aan Nebukadnesar oorgee en hy sal hulle voor julle doodmaak.

22. Wat met hulle gebeur, sal soos ’n spreekwoord word. Elke keer as die mense van Juda in Babel iemand wil verwens, sal hulle sê: ‘Mag die Here met jou laat gebeur soos wat die koning van Babel met Agab en Sedekia gedoen het. Hy het hulle lewendig verbrand!’

23. Hierdie twee het verskriklike dinge onder die mense van Israel gedoen. Hulle het owerspel gepleeg met ander mans se vroue. Hulle het ook leuens vertel en voorgegee hulle praat namens My. Ek het hulle geen opdragte gegee nie. Ek weet, want Ek is ’n getuie van alles,” sê die Here.

24. Dra die volgende boodskap oor aan Semaja van Negelam.

25. “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Jy het op eie inisiatief briewe aan die priester Sefanja seun van Maäseja geskryf en kopieë daarvan aan die priesters en die mense in Jerusalem gestuur. Jy het geskryf:

26. “Die Here het jou in die plek van die priester Jojada in beheer van die tempel aangestel. Dit is jou taak om toe te sien dat geen waansinnige mens profesieë bring nie. So iemand moet jy in die tronk sit met ’n ysterboei om die nek.

27. Verduidelik ’n bietjie hoekom jy Jeremia, wat van Anatot af kom, nie tereggewys het nie? Hy gee mos voor om ’n profeet te wees!

28. Jeremia het vir ons in Babel ’n brief gestuur waarin hy sê dat ons lank hier sal bly. Hy het gesê ons moet huise bou en dit bewoon. Verder moes ons ook tuine aanlê en die vrugte wat dit oplewer, eet.”

29. Die priester Sefanja het hierdie brief gelees waar die profeet Jeremia dit kon hoor.

30. Die Here het toe vir Jeremia hierdie boodskap gegee:

31. “Laat weet vir al die mense in ballingskap: ‘Die Here sê van Semaja wat van Negelam af kom: Hy het vir julle boodskappe gebring, maar Ek het hom nie gestuur nie. Hy het julle in leuens laat glo.

32. Omdat Semaja dit gedoen het, sê die Here, sal Ek hom en sy familie straf. Nie een van sy mense sal lewe om al die goeie dinge te sien wat Ek vir my volk gaan doen nie, want hy het die mense geleer om opstandig teen My te wees. Dit is wat die Here self sê!’”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 29