Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 29:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Wat volg, is die inhoud van ’n brief wat Jeremia in Jerusalem geskryf het. Hy het dit gestuur aan die oumense, priesters, profete en al die mense wat Nebukadnesar uit Jerusalem na Babel toe weggevoer het.

2. Koning Jojagin en die koninginmoeder was toe alreeds uit Jerusalem weggevoer. Saam met hulle was ook die amptenare van die koning, die leiers van Juda, ambagsmense en smede.

3. Jeremia het die brief saam met Elasa seun van Safan en Gemarja seun van Gilkija gestuur. Koning Sedekia van Juda het hulle as ambassadeurs na koning Nebukadnesar van Babel gestuur. Jeremia se brief was soos volg:

4. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê vir al die mense wat Hy uit Jerusalem na Babel toe laat wegvoer het:

5. “Bou huise en woon daarin. Plant tuine en eet die kos wat dit oplewer.

6. Trou en verwek kinders. Sorg dat julle kinders ook trou sodat julle baie kleinkinders sal hê! Sorg dat julle getalle daar vermeerder en nie verminder nie.

7. Dra ook julle deel by vir vrede in Babel waarheen Ek julle in ballingskap laat gaan het. Bid tot die Here sodat dit goed sal gaan met die stad waarin julle bly. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”

8. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers by julle julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie aan hulle drome steur nie.

9. Hulle verkondig leuens aan julle en sê hulle praat namens My. Ek het hulle beslis nie gestuur nie!” sê die Here.

10. So sê die Here: “Julle sal 70 jaar lank in Babel wees. Maar as die tyd verstryk het, sal Ek al die goeie beloftes begin vervul. Ek sal julle na julle land toe terugbring.

11. Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.

12. Julle sal na My roep en bid, en Ek sal na julle luister.

13. As julle heelhartig na My soek, sal julle My vind.

14. Julle sal My toeganklik vind,” sê die Here. “Ek sal julle uit gevangenskap laat terugkeer. Ek sal julle versamel tussen al die nasies waar julle nou is en uit al die plekke waarheen Ek julle verban het,” sê die Here. “Ek sal julle weer terugbring na die plekke waarvandaan Ek julle in ballingskap laat gaan het.”

15. Julle mag sê dat die Here vir julle profete in Babel gegee het,

16. maar hoor wat sê die Here oor die koning wat op die troon van koning Dawid sit. Hoor ook wat Hy sê oor al die mense wat in hierdie stad oorbly, wat hulle nie saam met julle na Babel weggevoer het nie.

17. Die Here, die Almagtige, sê: “Ek sal oorlog, hongersnood en epidemies op hulle pad bring. Ek maak hulle soos vye wat te vrot is om te eet.

18. Ek agtervolg hulle met oorloë, hongersnood en epidemies en Ek verstrooi hulle oor die hele aarde. Oral waar hulle kom, sal mense skrik oor wat met hulle gebeur het. Mense sal hulle afstootlik vind en hulle verag of hulle spot en grappe oor hulle maak.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 29