Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 27:16-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Ek het toe met die priesters en hierdie mense gepraat en gesê: “Die Here sê: Moenie na die profete luister wat sê dat al die kosbare voorwerpe wat hulle uit die tempel van die Here weggevat het, gou uit Babel hiernatoe sal terugkom nie. Dis ’n leuen!

17. Moenie na hulle luister nie. Gee julleself oor aan die koning van Babel en julle sal bly lewe. Hoekom moet hierdie stad verwoes word?

18. Hulle sê dat hulle die Here se profete is. As dit so is, laat hulle dan tot die Here, die Almagtige, bid oor die kosbare voorwerpe wat in die tempel van die Here, in die paleis in Juda en in Jerusalem oorgebly het. Laat hulle bid dat dit nie ook na Babel weggevat word nie.

19. “Want so sê die Here, die Almagtige, oor wat met die koperpilare, groot koperbad, staanders en ander bakke wat nog in hierdie stad oorgebly het, gaan gebeur.

20. Jojagin was destyds die koning van Juda. Hy was die seun van koning Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het Jojagin en ’n groot klomp van die belangrikste mense van Juda en Jerusalem na Babel toe weggevoer. Toe hy hulle weggevoer het, het hy egter hierdie voorwerpe agtergelaat.

21. Maar hoor wat sê die Here, die Almagtige, oor hierdie kosbare voorwerpe wat in die tempel en die paleis van die koning van Juda is:

22. ‘Hulle sal al hierdie voorwerpe na Babel toe wegdra,’ sê die Here. ‘Dit sal daar bly totdat Ek dit terug wil bring. Dan bring Ek alles terug en Ek herstel dié plek.’”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 27