hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jeremia dra ’n juk

1. Met die aanvang van die regering van koning Sedekia van Juda het die Here vir Jeremia ’n boodskap gegee. Sedekia was die seun van Josia.

2. Die Here het vir my gesê: “Maak vir jou ’n juk en sit dit op jou nek vas met leerrieme.

3. Stuur dan deur hulle ambassadeurs ’n boodskap aan die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon. Die ambassadeurs het na koning Sedekia van Juda in Jerusalem gekom.

4. Gee hulle opdrag om die volgende boodskap aan hulle konings oor te dra: ‘Die Here, die Almagtige, die God van Israel sê:

5. Ek het die aarde en die mense en die diere op die aarde deur my groot mag en krag gemaak. Ek kan dit gee aan wie Ek wil.

6. Nebukadnesar, die koning van Babel, is in my diens. Ek sal al hierdie lande vir hom gee. Ek sal selfs die wilde diere van die veld onder sy beheer stel.

7. Al die nasies sal hom en sy seun en sy kleinseun dien tot hulle tyd verby is. Daarna sal sterk nasies en magtige konings Babel oorwin en oor Babel regeer.

8. Julle almal moet die koning van Babel dien. Plaas julle nekke onder die juk van die koning van Babel. Maar as een van hierdie nasies of lande weier om Nebukadnesar te dien, stuur Ek oorloë, hongersnood en epidemies na hulle totdat Babel hulle heeltemal oorwin, sê die Here.

9. “‘Moenie na julle eie profete luister nie, ook nie na die waarsêers of mense wat drome uitlê nie. Moet ook nie julle ore uitleen aan fortuinvertellers of towenaars nie. Hulle sê mos: Julle sal nie die koning van Babel dien nie.

10. Hulle verkondig ’n spul leuens aan julle. Dit veroorsaak dat Ek julle ver uit julle land sal dryf. Ek sal julle ver wegstuur en daar sal julle sterf.

11. Maar die volke wat hulle onderwerp aan die koning van Babel en hom dien, sal Ek toelaat om in hulle eie land agter te bly. Hulle kan aangaan om te boer en in hulle land te woon, sê die Here!’”

12. Ek het toe dieselfde boodskap aan koning Sedekia van Juda herhaal en gesê: “As julle wil bly lewe, moet julle julle oorgee aan die koning van Babel. Dien hom en sy mense.

13. Hoekom wil u en u mense in ’n oorlog sterf? Hoekom wil julle van honger of aan ’n epidemie sterf? Die Here het gesê dit is wat met enige volk sal gebeur wat hulle nie aan die koning van Babel onderwerp nie.

14. Moenie luister na wat die profete vir julle sê nie: ‘Julle sal nie die koning van Babel dien nie.’ Hulle lieg!

15. Die Here sê: Ek het hulle nie gestuur nie! Hulle vertel leuens in my Naam! Hulle is die oorsaak dat Ek julle uit julle land sal verdryf. Julle en julle profete met hulle liegstories sal almal doodgemaak word.”

16. Ek het toe met die priesters en hierdie mense gepraat en gesê: “Die Here sê: Moenie na die profete luister wat sê dat al die kosbare voorwerpe wat hulle uit die tempel van die Here weggevat het, gou uit Babel hiernatoe sal terugkom nie. Dis ’n leuen!

17. Moenie na hulle luister nie. Gee julleself oor aan die koning van Babel en julle sal bly lewe. Hoekom moet hierdie stad verwoes word?

18. Hulle sê dat hulle die Here se profete is. As dit so is, laat hulle dan tot die Here, die Almagtige, bid oor die kosbare voorwerpe wat in die tempel van die Here, in die paleis in Juda en in Jerusalem oorgebly het. Laat hulle bid dat dit nie ook na Babel weggevat word nie.

19. “Want so sê die Here, die Almagtige, oor wat met die koperpilare, groot koperbad, staanders en ander bakke wat nog in hierdie stad oorgebly het, gaan gebeur.

20. Jojagin was destyds die koning van Juda. Hy was die seun van koning Jojakim. Koning Nebukadnesar van Babel het Jojagin en ’n groot klomp van die belangrikste mense van Juda en Jerusalem na Babel toe weggevoer. Toe hy hulle weggevoer het, het hy egter hierdie voorwerpe agtergelaat.

21. Maar hoor wat sê die Here, die Almagtige, oor hierdie kosbare voorwerpe wat in die tempel en die paleis van die koning van Juda is:

22. ‘Hulle sal al hierdie voorwerpe na Babel toe wegdra,’ sê die Here. ‘Dit sal daar bly totdat Ek dit terug wil bring. Dan bring Ek alles terug en Ek herstel dié plek.’”