Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 25:14-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Baie van die nasies met magtige konings sal van die Babiloniërs slawe maak. Op dié manier sal Ek hulle terugbetaal vir alles wat hulle aan julle gedoen het.”

15. Die Here, die God van Israel, het vir my gesê: “Hierdie wynbeker in my hand is vol van my woede. Neem dit na die nasies waarheen Ek jou stuur en laat hulle daaruit drink.

16. As hulle daaruit drink, sal hulle slinger. Hulle sal rasend raak weens die oorlog waarin Ek hulle laat beland.”

17. Ek het toe die beker by die Here gevat en na al die nasies gegaan na wie Hy my gestuur het. Ek het hulle uit die beker laat drink.

18. Jerusalem en die ander dorpe van Juda het uit die beker gedrink, saam met hulle konings en leiers. Van toe af is die land verwoes en verlate gemaak, ’n voorwerp van spot en ’n vloek. Dit is vandag nog steeds die geval.

19. Ek het ook na Farao, die koning van Egipte, sy amptenare, sy leiers en al sy mense gegaan.

20. Verder ook na die vreemdelinge wat tussen hulle gebly het. Dan ook al die konings van die land Us, al die konings van die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en wat van Asdod oorgebly het,

21. asook Edom, Moab en Ammon,

22. en al die konings van Tirus en Sidon en die lande om die Middellandse See,

23. ook Dedan, Tema, Bus en ander veraf plekke,

24. die konings van Arabië, die konings van die mense wat in die woestyn rondtrek

25. en die konings van Simri, Elam en Medië.

26. Die konings van die lande in die noordelike gebiede, dié wat naby en dié wat ver was, het almal uit die beker gedrink. Al die konings van die wêreld moes daaruit drink. En laaste van almal sal die koning van Babel uit hierdie beker drink.

27. Toe het die Here vir my gesê: “Ek is die Here, die Almagtige, die God van Israel. Sê vir hulle: ‘Drink totdat julle dronk is en opgooi. Drink totdat julle val en nie weer kan opstaan nie. Dit is wat met julle gaan gebeur in die oorlog wat Ek oor julle bring.’

28. As hulle weier om die beker te drink, sê vir hulle: ‘Die Here, die Almagtige, sê julle het nie ’n keuse nie, drink!

29. Ek het reeds begin om Jerusalem te straf, die stad wat My geëer het. Moet Ek hierdie stad oorsien? Hoe kan julle ooit dink om straf vry te spring? Julle het geen kans om dit vry te spring nie. Ek gaan al die inwoners van die wêreld in oorlog dompel. Ek is die Here, die Almagtige. Ek sê dit!’

30. “Profeteer vir almal hierdie boodskappe en sê vir hulle: “‘Die Here sal uit die hoogte brul. Uit sy heilige woonplek sal Hy sy stem laat bulder teen sy eie mense. Hy roep ook hard teen al die mense op die aarde. En sy stem klink soos die geskreeu van mense wat druiwe pars.

31. Sy gebrul sal oor die aarde weergalm, want die Here maak ’n saak teen al die nasies. Hy oordeel al die mense van die wêreld. Boosdoeners laat Hy in oorloë sterf. Dit is wat die Here sê.’”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 25