Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 8:7-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het alles wat Haman besit het vir Ester gegee en ek het hom aan sy eie galg laat ophang omdat hy die Jode wou uitroei.

8. ’n Proklamasie wat reeds in die naam van die koning uitgevaardig is en met sy seëlring bevestig is, kan nooit herroep word nie. Maar skryf julle nou ook ’n brief aan die Jode met julle plan. Skryf dit as ’n verdere proklamasie in my naam en verseël dit met my seëlring.”

9. Die sekretarisse van die koning is ontbied. Dit was op die 23ste van die derde maand, die maand Siwan. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai vir die Jode, die amptenare van die koning, die goewerneurs en die leiers in die 127 provinsies van Indië af tot by Etiopië wou laat weet. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook vir die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf.

10. Mordegai het namens koning Ahasveros laat skryf en die briewe met die koning se seëlring laat verseël. Die briewe is met boodskappers op resiesperde uit die koning se stalle gestuur.

11. In die briewe is geskryf dat die koning aan al die Jode in elke stad die vergunning gee om bymekaar te kom om hulleself te verdedig. Hulle kon enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle en hulle kinders en vroue aanval, doodmaak en vernietig en uitroei. Hulle kon op hulle besittings beslag lê.

12. Die dag waarop hulle dit in al die provinsies van koning Ahasveros kon doen, was die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar.

13. ’n Afskrif van die proklamasie moes na elke provinsie gaan en as wet afgekondig word. Al die volke moes daarvan kennis neem. Die Jode moes reg wees om hulle op daardie dag op hulle vyande te wreek.

14. Die boodskappers op die perde uit die koning se stalle het toe, volgens die opdrag van die koning, haastig vertrek. Die proklamasie is tegelyk ook in die hoofstad Susan afgekondig.

15. Toe Mordegai van die koning af weg is, was hy geklee in ’n koninklike kleed van blou en wit linne, met ’n groot goue kroon op sy kop, en ’n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan was verheug en baie bly oor die proklamasie.

Lees volledige hoofstuk Ester 8