Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 8:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Daardie selfde dag nog het koning Ahasveros alles wat Haman, die vyand van die Jode, besit het, vir koningin Ester gegee. Ester het vir die koning vertel hoe Mordegai aan haar verwant is. Mordegai het na die koning toe gekom.

2. Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy by Haman teruggevat het, en dit vir Mordegai gegee. Ester het Mordegai in beheer van Haman se besittings aangestel.

3. Ester het toe nog ’n keer gewaag om met die koning te kom praat. Sy het huilend by sy voete neergeval en hom gesmeek om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, tot niet te maak.

4. Die koning het weer sy goue septer na Ester toe uitgesteek. Sy het opgestaan en voor hom kom staan.

5. Sy het gesê: “As dit goed is vir die koning en u my goedgesind is, en dit vir u in orde lyk, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman, seun van Hammedata die Agagiet, terug te trek. Hy het daarin geskryf dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word.

6. Ek kan mos nie net toekyk wanneer my volk deur so ’n ramp getref word nie. Hoe kan ek toelaat dat my familie uitgeroei word?”

7. Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het alles wat Haman besit het vir Ester gegee en ek het hom aan sy eie galg laat ophang omdat hy die Jode wou uitroei.

8. ’n Proklamasie wat reeds in die naam van die koning uitgevaardig is en met sy seëlring bevestig is, kan nooit herroep word nie. Maar skryf julle nou ook ’n brief aan die Jode met julle plan. Skryf dit as ’n verdere proklamasie in my naam en verseël dit met my seëlring.”

9. Die sekretarisse van die koning is ontbied. Dit was op die 23ste van die derde maand, die maand Siwan. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai vir die Jode, die amptenare van die koning, die goewerneurs en die leiers in die 127 provinsies van Indië af tot by Etiopië wou laat weet. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook vir die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf.

Lees volledige hoofstuk Ester 8