Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 42:8-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Die lengte van die kamergebou teen die buitenste voorhof was 25 meter, maar aan die tempel se kant was dit 50 meter.

9. Die ingang uit die buitenste voorhof na die onderste kamers toe was aan die oostekant.

10. Daar was ook kamers teen die muur van die buitenste voorhof, aan die suidekant teen die tempelplein. Daar was kamers net soos aan die noordekant teen die muur.

11. En daar was ’n gang voor hulle net soos voor die kamers aan die noordekant. Die kamers was net so lank en so breed soos dié aan die noordekant. Hulle afmetings was ook dieselfde.

12. Daar was ’n ingang aan die punt van die gang, die gang langs die keermuur, en nog een aan die oostekant vir dié wat daar wou ingaan.

13. Die man het vir my gesê: “Hierdie kamers wat oor die tempel uitkyk aan die noordekant en suidekant is heilig. Die priesters wat aan die Here offers bring, eet hier die heiligste offers. En hier bewaar hulle die graanoffer, die sonde-offer en die skuldoffer. Hierdie kamers is heilig.

14. Wanneer die priesters die heilige terrein verlaat, mag hulle nie direk na die buitenste voorhof toe gaan nie. Hulle moet eers die klere uittrek waarin hulle diens gedoen het, want die klere is ook heilig. Hulle moet ander klere aantrek voordat hulle na die dele van die gebou gaan wat vir die publiek oop is.”

15. Nadat die man die tempelgebied klaar aan die binnekant afgemeet het, het hy my by die oostelike poort uitgeneem om die totale tempelarea te meet.

16. Eers het hy die oostekant gemeet met sy meetstok. Die muur hier was 250 meter lank.

17. Toe meet hy die noordekant, ook 250 meter lank,

18. en die suidekant, wat dieselfde lengte was.

19. Daarna het hy omgegaan na die westekant toe en daar gemeet, ook 250 meter.

20. Hy het die muur rondom gemeet aan al vier kante. Die lengte was 250 meter en die breedte 250 meter. Die muur het die heilige plek van die alledaagse afgeskei.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 42