Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 39:6-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Ek gooi vuur op Magog en al sy bondgenote wat veilig langs die kus bly. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.

7. “So sal die mense van Israel My leer ken as die Heilige. Ek sal nie dat hulle my verder ontheilig nie. En die nasies sal ook besef dat Ek die Here is, die Heilige van Israel.

8. Die oordeelsdag kom nader, sê die oppermagtige Here. Dit sal gebeur net soos Ek gesê het.

9. “Dan sal die mense van die dorpe van Israel uitgaan en met jou soldate se wapens vuur maak – met groot en klein skilde, boë en pyle, steekspiese en werpspiese. Hulle sal sewe jaar lank daarmee kan vuur maak.

10. Dit sal nie nodig wees om in die veld hout bymekaar te maak of in die bos te kap nie. Hulle sal met jou wapens vuur maak. Hulle sal dié plunder wat hulle geplunder het en buit vat van dié wat by hulle buit wou vat, sê die oppermagtige Here.

11. “Ek maak ’n begraafplaas vir Gog in Israel, in Reisigersvallei, oos van die Dooie See. Die begraafplaas sal reisigers se pad versper. Hulle sal die plek Vallei van Gog se menigtes noem.

12. “Die mense van Israel sal sewe maande nodig hê om die land van al die lyke skoon te maak.

13. Elkeen in Israel sal help. Dit gaan ’n wonderlike oorwinning vir Israel wees daardie dag wanneer Ek vereer word, sê die oppermagtige Here.

14. “Aan die einde van sewe maande sal mense aangestel word om die land te deursoek vir lyke en om hulle te begrawe sodat die land skoongemaak kan word.

15. Waar geraamtes gekry word, sal hulle ’n teken oprig sodat die ondernemers dit kan sien en die lyke in die Vallei van Gog se menigtes kan begrawe.

16. (Daar sal selfs ’n stad wees met die naam ‘Menigtes’.) So sal die land uiteindelik skoongemaak word.

17. “Mensekind, roep nou al die voëls en wilde diere, sê die oppermagtige Here. Sê vir hulle: Kom bymekaar vir die groot offerfees! Kom van ver en naby na die berge van Israel, kom eet die vleis en drink die bloed!

Lees volledige hoofstuk Esegiël 39