Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:4-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Julle sorg nie vir die swakkes, dokter nie die siekes en verbind nie die wonde van die beseerdes nie. Julle bring nie dié terug wat weggedwaal het en soek nie dié wat weggeraak het nie. Julle het hard en wreed oor hulle regeer.

5. My skape het verstrooid geraak sonder ’n herder. Hulle is maklike prooi vir enige wilde dier.

6. Hulle het op berge en oor heuwels rondgedwaal, oor die hele aarde, en tog het niemand hulle gaan soek nie.

7. “Daarom, herders, hoor die woord van die Here:

8. So seker as Ek leef, sê die oppermagtige Here, julle het die kudde verlaat en gelos sodat elke wilde dier hulle kon aanval. Julle was my herders, maar julle het nie my skape wat weggeraak het, gaan soek nie. Julle het vir julleself gesorg en nie vir die skape nie.

9. Daarom, herders, hoor die woord van die Here.

10. So sê die oppermagtige Here: Ek beskou hierdie herders nou as my vyande, en Ek hou hulle verantwoordelik vir wat met my kudde gebeur. Ek neem hulle reg weg om die kudde te versorg, en ook hulle reg om vir hulleself te sorg. Ek red my skape uit hulle mond. Die skape sal nie langer hulle slagoffer wees nie.”

11. “So sê die oppermagtige Here: Ek sal self my skape soek en vir hulle sorg.

12. Ek sal soos ’n herder wees wat na sy verstrooide kudde kyk. Ek sal my skape vind en red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker dag van oordeel.

13. Uit die nasies en lande waar hulle was, bring Ek hulle huis toe na hulle eie land. Ek laat hulle wei op die berge van Israel en in die klowe, op al die plekke waar mense lewe.

14. Ek gee hulle goeie weiveld op die hoë heuwels van Israel. Hulle sal in groen weivelde lê en herkou, op goeie velde op die berge van Israel.

15. Ek versorg self my skape en laat hulle in vrede lê en rus, sê die oppermagtige Here.

16. Ek soek na dié wat afgedwaal het en bring hulle veilig terug. Ek verbind die wonde van die beseerdes en versterk die swakkes. Maar Ek vernietig die vettes en magtiges. Ek lei die kudde in reg en geregtigheid.

17. “En wat julle betref, my kudde, my volk, so sê die oppermagtige Here: Ek oordeel regverdig tussen skaap en skaap, en tussen skaap en bok.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34