Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 34:15-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Ek versorg self my skape en laat hulle in vrede lê en rus, sê die oppermagtige Here.

16. Ek soek na dié wat afgedwaal het en bring hulle veilig terug. Ek verbind die wonde van die beseerdes en versterk die swakkes. Maar Ek vernietig die vettes en magtiges. Ek lei die kudde in reg en geregtigheid.

17. “En wat julle betref, my kudde, my volk, so sê die oppermagtige Here: Ek oordeel regverdig tussen skaap en skaap, en tussen skaap en bok.

18. Is dit nie genoeg dat julle die beste weiveld vir julleself gehou het nie? Moet julle nou ook die res vertrap? Is dit nie genoeg dat julle skoon water vir julleself gehou het nie? Moet julle nou ook die res met julle pote modderig maak?

19. Al wat vir my kudde oorgebly het, is wat julle vertrap het. Al wat hulle kon drink, is water wat julle vuil gemaak het.

20. “Daarom, sê die oppermagtige Here, Ek oordeel tussen die vet en die maer skape.

21. Met julle skouers en horings stoot julle vet skape my swak skape weg totdat julle hulle ver weggejaag het.

22. Nou red Ek my kudde, en hulle sal nie langer geplunder word nie. Ek oordeel tussen skape.

23. En Ek stel een herder oor almal aan, my dienaar Dawid. Hy sal hulle versorg en hulle herder wees.

24. En Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienaar Dawid sal hulle leier wees. Ek, die Here, het so gesê!”

25. “Ek maak ’n ooreenkoms van vrede met hulle en dryf al die gevaarlike diere uit die land weg. Dan sal my volk veilig in die wildernis kan uitkamp en in die woude slaap sonder om bang te wees.

26. My volk en hulle huise, wat rondom my woonplek is, sal geseënd wees. Ek stuur reënbuie, buie van seëninge.

27. Die vrugteboorde en landerye sal volop dra. Almal sal veilig wees. Wanneer Ek hulle uit die ballingskap verlos en hulle red van die mense wat hulle verslaaf het, sal hulle besef dat Ek die Here is.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 34