Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 31:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Daarom het Ek hom oorgegee aan die leier van nasies wat hom gaan vernietig soos sy boosheid verdien. Ek het hom eenkant neergegooi.

12. Die wreedste van vreemde soldate het hom afgekap en hom op die grond laat val. Die takke lê verstrooid oor die berge en valleie en ravyne. Al die mense wat in sy skaduwee geleef het, het weggegaan en hom agtergelaat.

13. Die voëls het op sy omgevalle stam kom sit, en die wilde diere het tussen sy takke gelê.

14. Daarom sal geen boom wat by waters staan, ooit weer trots word en sy kop tussen die wolke optel nie. Geen ander boom mag weer so hoog word nie. Hulle is almal bestem om dood te gaan, na die graf toe tussen sterflike mense.

15. “So sê die oppermagtige Here: Toe hy in die graf afgegaan het, het die waters oor hom getreur, en Ek het die strome teruggehou sodat daar nie meer water was nie. Ek het die Libanon swart aangetrek en die bome van die veld het oor hom verlep.

16. Ek het die nasies laat bewe voor die gedreun van sy val, want Ek het hom graf toe gestuur saam met al die ander wat soos hy is. Die ander trotse bome van Eden, die mooiste en beste van die Libanon, hulle wat water gebruik het, was bly in die onderwêreld.

17. Hulle is ook almal vernietig en doodgemaak. Al die nasies wat in sy skaduwee geleef het, het in die graf beland.

18. “Met watter een van die bome van Eden kan jou mag en aansien vergelyk word, Egipte? Tog sal jy ook saam met die bome van Eden na die onderwêreld gebring word. Jy sal lê tussen die bannelinge wat met die swaard doodgemaak is. Dit is wat met die farao en al sy soldate gaan gebeur, sê die oppermagtige Here.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 31