Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 22:17-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Toe het die Here vir my gesê:

18. “Mensekind, die mense van Israel is waardelose metaalskuim wat agterbly ná die silwer gesmelt is. Hulle is die onsuiwerheid wat agterbly, ’n nuttelose mengsel van koper, tin, yster en lood.

19. Daarom moet jy vir hulle sê die oppermagtige Here sê: Omdat jy waardelose metaalskuim is, bring Ek jou na die smeltoond in Jerusalem.

20. Daar sal Ek jou smelt in die hitte van my woede, nes koper, tin, yster en lood in die smeltoond gesmelt word.

21. Ek sal jou bymekaarmaak in die vuur van my woede. En jy sal gesmelt word.

22. Jy sal soos silwer smelt in hoë hitte. Dan sal jy erken dat dit Ek, die Here, is wat my wraak oor jou uitgegiet het.”

23. Die Here het nog ’n keer met my gepraat:

24. “Mensekind, sê vir die mense van Israel Ek sê: In die dag wat my toorn oor julle losbreek, sal julle soos ’n woestyn word waar geen reën val nie.

25. Jou leiers smee komplotte in jou, nes leeus wat hulle prooi bekruip. Hulle vreet onskuldige mense op en vat hulle skatte en rykdom vir hulleself. Hulle maak baie vroue weduwees.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 22