Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 10:4-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Toe het die heerlikheid van die Here opgestyg van bokant die gerubs en na die drumpel van die tempel gegaan. Die tempel was gevul met hier-die wolk van heerlikheid, en die tempel het blink geskyn van die heerlikheid van die Here.

5. Die vlerke van die gerubs wat beweeg het, het soos die stem van God die Almagtige geklink. Dit kon duidelik in die buitenste voorhof gehoor word.

6. Die Here sê toe vir die man met die linneklere: “Gaan tussen die gerubs in en vat van die brandende kole tussen die wiele.” Die man het ingegaan en langs een van die wiele gaan staan.

7. Een van die gerubs het sy hand uitgesteek en brandende kole gevat uit die vuur wat tussen hulle is. Hy sit toe die kole in die hande van die man met die linneklere. Die man het dit gevat en uitgegaan.

8. Die gerubs het almal iets onder hulle vlerke gehad wat soos mense se hande gelyk het.

9. Ek sien toe dat daar langs elkeen van die gerubs ’n wiel is. Die wiele het soos edelstene geblink.

10. Die vier wiele het presies eenders gelyk. Binne-in elke wiel het ’n ander wiel dwars gedraai.

11. Die gerubs kon beweeg in die rigting van enige van die vier kante, sonder om van koers te verander as hulle beweeg; in die rigting waarheen die voorste gedraai was, het die ander gevolg, en hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie.

12. Die gerubs en die wiele was vol oë. Die gerubs het oë oor hulle hele lywe gehad, en ook op hulle hande en hulle rûe en hulle vlerke.

13. Ek het gehoor iemand praat daarvan as “wiele”.

14. Elkeen van die vier gerubs het vier gesigte gehad. Die eerste was die gesig van ’n bees. Die tweede was die gesig van ’n mens. Die derde was die gesig van ’n leeu. En die vierde was die gesig van ’n arend.

15. Die gerubs het opgestyg. Dit was dieselfde lewende wesens wat ek langs die Kebarrivier gesien het.

16. Wanneer die gerubs beweeg het, het die wiele saam beweeg. Wanneer hulle in die lug opgestyg het, het die wiele langs hulle gebly.

17. Wanneer die gerubs stilgestaan het, het die wiele ook gaan staan, want die gees van die lewende wesens was in die wiele.

18. Toe het die heerlikheid van die Here van die deur van die tempel af beweeg en oor die gerubs gehang.

19. Terwyl ek gekyk het, het die gerubs met hulle wiele na die oostelike ingang van die Here se tempel gevlieg. En die heerlikheid van die God van Israel het oor hulle gehang.

20. Dit was dieselfde lewende wesens wat ek onder die God van Israel gesien het toe ek langs die Kebarrivier was. Ek het geweet hulle is gerubs,

21. want elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad, en iets wat soos mensehande gelyk het, was onder hulle vlerke.

22. Hulle gesigte het ook net soos die gesigte gelyk van die wesens wat ek langs die Kebar gesien het, en hulle het reguit vorentoe beweeg, net soos die ander gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 10