Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 8:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het toe vir Moses gesê: “Gaan weer terug na die farao toe en sê vir hom: ‘Hoor wat die Here sê: Laat my volk trek sodat hulle My kan gaan aanbid.

2. As jy weier om dit te doen, moet jy nou mooi hoor: Ek sal hordes paddas oor jou hele land laat kom.

3. Die hele Nylrivier sal vol van hulle wees. Hulle sal uit die rivier klim en in julle huise, selfs in julle slaapkamers en in julle beddens kom. Elke huis in Egipte sal vol paddas wees, ook in die huise van die mense wat vir jou werk. Hulle sal selfs in jou oonde en jou knieskottels klim.

4. Die paddas sal opspring teen jou en jou volk en almal wat vir jou werk!’”

5. Toe sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron hy moet sy hand waarin hy die herderstok vashou na al die riviere, die kanale en die moerasse in Egipte uitsteek sodat daar paddas tot in elke uithoek van die land kan kom.”

6. Aäron het sy hand na al die plekke waar daar water was, uitgesteek. Daar het paddas oor die hele Egipte gekom.

7. Die towenaars kon egter met hulle kunsies presies dieselfde ding doen. Hulle kon ook paddas oor die hele land laat kom.

8. Die farao het toe Moses en Aäron laat roep en by hulle gesoebat: “Vra tog vir die Here om die paddas van my en my volk weg te vat. Ek sal die volk laat gaan om vir die Here offers te bring.”

9. “Sê net wanneer!” het Moses die farao geantwoord. “Wanneer u sê, sal ek vir u en u amptenare en u volk bid. Ek sal die Here vra om die paddas van u en uit u huise weg te vat. Net die paddas wat in die Nylrivier is, sal bly lewe.”

10. “Doen dit môre,” het die farao gesê. “Goed,” het Moses geantwoord, “ek sal so maak. U sal dan weet dat niemand met die Here, ons God, vergelyk kan word nie.

11. Al die paddas wat by u en in u huise en u werkmense en u volk is, sal verdwyn. Net dié wat in die rivier is, sal oorbly.”

12. Moses en Aäron is weg van die farao af. Moses het tot die Here gebid oor die ramp van die paddas wat die Here oor die farao gebring het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 8