Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 7:13-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Die farao het egter hardkoppig gebly. Hy wou nog steeds nie na hulle luister nie. Dit was presies net soos die Here gesê het dit sou gebeur.

14. Die Here sê toe vir Moses: “Die farao bly nog steeds eiesinnig en hy weier steeds dat die volk kan gaan.

15. Môre-oggend, wanneer die farao afgaan na die rivier toe, moet jy met hom gaan praat. Gaan staan langs die rivier en wag vir hom daar. Vat die herderstok wat in ’n slang verander het saam met jou.

16. Sê dan vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het my na jou toe gestuur om vir jou te sê: Laat my volk gaan om My in die woestyn te aanbid. Tot nou toe het jy geweier om na My te luister.

17. Daarom stuur die Here nou vir jou ’n boodskap waaraan jy kan weet wie Ek die Here is. Ek gaan met hierdie stok in my hand op die rivier se water slaan en dit gaan alles in bloed verander.

18. Die vis in die rivier gaan vrek en dit sal begin sleg ruik. Die Egiptenaars sal nie die water van die Nylrivier kan drink nie.’”

19. Die Here het ook nog vir Moses gesê: “Sê vir Aäron hy moet sy stok uitsteek in die rigting van al die plekke waar daar in Egipte water is – al sy riviere, sy kanale, sy moerasse en sy opgaarplekke. Oral in Egipte sal die water in bloed verander, selfs die water in houers en kruike in mense se huise.”

20. Moses en Aäron het toe presies net so gemaak soos die Here vir hulle gesê het. Terwyl die farao en al sy amptenare staan en kyk, het Moses sy stok gevat en op die water van die rivier geslaan. Al die water in die rivier het toe in bloed verander.

21. Die vis in die rivier het gevrek. Die water het so sleg begin ruik dat die Egiptenaars dit nie kon drink nie. Deur die hele Egipte was daar net bloed.

22. Maar die towenaars van Egipte het hulle kunsies gebruik en kon ook water in bloed verander. Dit het gemaak dat die farao steeds nie na hulle geluister het nie. Dit was soos die Here gesê het dit sou gebeur.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 7