Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 6:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe sê die Here vir Moses: “Nou gaan jy sien wat Ek met die farao gaan doen. Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan. Hy sal selfs by hulle aandring om pad te gee uit sy land.”

2. Die Here het verder vir Moses gesê: “Ek is die Here.

3. Ek het My aan Abraham, Isak en Jakob voorgestel as ‘God die Almagtige’. Hulle het My nie geken as ‘die Here’ nie.

4. Ek het met hulle ’n ooreenkoms gemaak om die land Kanaän, waarin hulle vir ’n tydjie oorgebly het, vir hulle te gee.

5. Jy kan verseker weet dat Ek gehoor het hoe die mense van Israel kla omdat hulle soos slawe vir die Egiptenaars werk. Ek het onthou van my ooreenkoms met hulle.

6. “Daarom moet jy vir die Israeliete gaan sê: ‘Ek is die Here. Ek sal julle verlos van die slawewerk in Egipte. Ek sal julle bevry met krag en met sterk vergeldingsdade.

7. Ek maak julle my eie volk. Ek sal julle God wees. Julle sal weet dat dit Ek, die Here julle God, is wat julle van die slawewerk in Egipte bevry het.

8. Ek sal julle laat kom in die land wat Ek onder eed vir Abraham, Isak en Jakob belowe het. Dit sal julle eie land wees. Ek is die Here.’”

9. Moses het dit alles net so aan die Israeliete oorgedra. Omdat hulle moedeloos was oor die harde werk, wou hulle nie na Moses luister nie.

10. Die Here het toe vir Moses gesê:

11. “Gaan praat weer met die koning van Egipte dat hy die Israeliete uit sy land moet laat weggaan.”

12. “Maar, Here,” het Moses geprotesteer, “die Israeliete luister nie eers na my nie, hoe sal die farao dan na my luister? Ek struikel oor my woorde.”

13. Die Here het nogtans vir Moses en Aäron die opdrag gegee om terug te gaan na die farao, die koning van Egipte, toe en die Israeliete uit Egipte weg te lei.

14. Onder die nageslag van die stamme van Israel was daar die volgende: Die seuns van Ruben, die oudste seun van Israel, was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Hulle was die leiers van Ruben se nageslag.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 6