Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 34:28-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Moses was daar bo-op die berg by die Here vir 40 dae en 40 nagte. Hy het gedurende daardie tyd niks geëet of gedrink nie. Hy het die Tien Gebooie van God se ooreenkoms op die plat klippe geskryf.

29. Moses het van Sinaiberg afgeklim met die twee plat klippe waarop die bepalings van die verbond geskryf was in sy hande. Toe hy afklim, het hy nie geweet dat sy gesig blink omdat God met hom gepraat het nie.

30. Aäron en die Israeliete het gesien hoe sy gesig blink en was bang om naby hom te kom.

31. Moses het hulle egter nadergeroep. Toe Aäron en die leiers naderkom, het hy met hulle begin praat.

32. Die hele volk het nadergekom, en Moses het alles oorvertel wat die Here vir hom op Sinaiberg gesê het.

33. Nadat Moses met hulle gepraat het, het hy ’n doek oor sy kop gegooi.

34. Elke keer wanneer Moses met die Here in die tent gaan praat het, het hy die doek afgehaal tot hy weer teruggekom het. Dan het hy alles aan die Israeliete gerapporteer wat die Here vir hom gesê het.

35. Die Israeliete het sy gesig sien blink. Hy het daarom weer die doek oor sy kop gegooi totdat hy weer met die Here gaan praat het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 34