Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 34:14-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Julle mag geen ander god behalwe die Here aanbid nie. Hy is ’n God wat volle getrouheid vereis.

15. “Moenie ooreenkomste sluit met die inwoners nie. Hulle sal julle verlei om saam met hulle agter hulle gode aan te gaan en soos prostitute teenoor My op te tree. Wanneer hulle hulle gode aanbid, sal hulle julle uitnooi om saam met hulle van hulle afgodsoffers te eet.

16. Julle sal julle seuns met hulle dogters laat trou. Wanneer hulle vroue hulle gode aanbid, sal julle seuns agter hulle aangaan en soos prostitute teenoor My optree.

17. Julle mag nooit afgodsbeelde maak om te aanbid nie.

18. “Onthou om gereeld die Fees van die Ongesuurde Brood te hou. Soos Ek vir julle gesê het, moet julle vir sewe dae lank kos eet waarin daar geen suurdeeg gebruik is nie. Julle moet dit elke jaar in die vroeë lente hou. Dit is die tyd toe julle uit Egipte weg is.

19. “Alles wat eerste gebore is en manlik is, behoort aan My. Jou seun of jou bees of skaap wat eerste gebore word, is Myne.

20. Die eerste donkiehings mag met ’n skaap vervang word. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie se nek breek om dit dood te maak. Jou eerste seun wat gebore word, moet ook met geld uitgekoop word. Niemand mag na My toe kom sonder ’n offer nie.

21. “Ses dae lank moet jy besig wees met jou werk. Op die sewende dag moet jy ophou, selfs al is dit planttyd of oestyd.

22. Onthou ook om die Oesfees te hou wanneer die oes begin inkom. Onthou ook die Insamelingsfees aan die einde van die oestyd.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 34