Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 33:10-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Wanneer die volk die wolkkolom oor die tent se deur sien hang het, het hulle opgestaan en by die ingang van hulle tente gekniel om die Here te aanbid.

11. Binne-in die tent het die Here met Moses gepraat soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk. Wanneer Moses daarna weer na die kamp toe teruggekom het, het Josua die seun van Nun wat hom gehelp het, daar agtergebly. Hy het nie van die tent af weggegaan nie.

12. Op ’n keer het Moses vir die Here gesê: “U het vir my gesê om hierdie volk te lei na die land wat U aan hulle beloof het. U het egter nooit vir my gesê wie U saam met my gaan stuur nie. U het wel vir my gesê dat U my baie goed ken en dat ek u goedkeuring wegdra.

13. “As dit dan so is, sê asseblief wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my verwag. Hierdie mense is tog u eie volk.”

14. Hy vra toe vir Moses: “Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?”

15. Moses sê vir Hom: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ’n tree van hier af laat beweeg nie.

16. As U nie saam met ons gaan nie, waaraan sal dit duidelik wees dat U vir my en u volk lief is? Hoe anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor die ander volke op aarde?”

17. Die Here het vir Moses geantwoord: “Goed, Ek sal doen wat jy gevra het. Jy dra my goedkeuring weg. Jy is my vriend.”

18. Toe vra Moses: “Kan ek nie maar u heerlikheid sien nie?”

19. Die Here sê vir hom: “Ek sal jou iets van my goedheid laat sien en Ek sal jou my stem laat hoor wanneer Ek my Naam ‘die Here’ uitroep. Ek gee genade aan dié wat Ek wil; en ontferming aan dié wat Ek wil.”

20. Hy sê toe vir hom: “Jy durf nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly leef as hy sien hoe die Here lyk nie.”

21. Die Here sê verder vir hom: “Kom staan by hierdie rotse, hier by My.

22. Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan.

23. Wanneer Ek verby is, sal Ek my hand wegvat en dan sal jy My van agter kan sien. Niemand mag My van voor af sien nie.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 33