Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 3:4-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Toe die Here sien dat Moses naderkom om ondersoek in te stel, het Hy uit die bos na hom geroep: “Moses, Moses!” “Dit is ek, ja,” het Moses geantwoord.

5. “Moenie nog naderkom nie,” het die Here vir hom gesê. “Trek uit jou sandale. Die plek waarop jy staan, is heilige grond.”

6. God sê toe vir hom: “Ek is die God van jou voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Toe Moses dit hoor, het hy sy hande voor sy gesig gehou. Hy was bang om na God te kyk.

7. Die Here sê toe vir hom: “Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle teen hulle slawedrywers om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry.

8. Daarom het Ek afgekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi, groot land. Dit is ’n land met oorgenoeg kos. Die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete bly nou daar.

9. Die volk se noodroep het by My uitgekom en Ek het raakgesien hoe die Egiptenaars hulle verdruk en swaar laat werk.

10. Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy moet my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte uit.”

11. “Maar wie is ek dan om voor die farao te verskyn?” het Moses vir God gevra. “Hoe kan U dit van my verwag om die Israeliete uit Egipte weg te lei?”

12. God het geantwoord: “Ek sal by jou wees. Wanneer jy die volk uitgelei het uit Egipte en julle God by hierdie selfde berg kom aanbid, sal dit vir jou die bewys wees dat dit Ek is wat jou gestuur het.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 3