Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28:28-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Werk dan die ringe van die borssak met blou koorde vas aan die ringe van die skouerkleed. Dit sal bokant die gordel van die skouerkleed wees sodat die borssak nie wegskuif van die skouerkleed nie.

29. Sodoende dra Aäron die name van die stamme van Israel in die borssak oor sy hart wanneer hy ingaan in die teenwoordigheid van die Here in die binneste heiligdom. So sal die Here voortdurend herinner word aan sy volk.

30. Sit die Urim en die Tummim waarmee God se uitspraak bepaal word, in die borssak. Dit moet altyd oor Aäron se bors wees wanneer hy voor die Here kom. So dra Aäron altyd die tekens vir die regspraak in Israel op sy hart voor die Here.”

31. “Die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, moet van blou materiaal gemaak word.

32. In die middel moet daar ’n opening vir Aäron se kop wees. Die opening moet ’n omboorsel hê sodat dit nie kan skeur nie.

33. Maak tosseltjies van blou, pers en bloedrooi garing en werk dit vas aan die mantel met goue klokkies tussenin.

34. Die tosseltjies en klokkies moet mekaar afwissel en reg rondom die soom van die mantel vasgewerk word.

35. Aäron moet die mantel elke keer aanhê wanneer hy na die Here toe gaan in die heiligdom. Die klokkies sal klingel wanneer hy ingaan en weer daar uitkom. As hy dit dra, sal hy niks oorkom nie.

36. “Maak ook ’n blom van suiwer goud. Graveer daarop soos op ’n seëlring die woorde: ‘Net vir die Here.’

37. Werk die blom met blou garing vas aan die voorkant van Aäron se tulband.

38. Aäron sal dit op sy voorkop dra as teken dat hy medeskuldig is aan die oortredings wat Israel oor die offers begaan. Hy moet dit deurentyd dra sodat die Here goedgesind teenoor sy volk kan bly.

39. “Aäron se mantel moet van fyn linne gemaak word. Die tulband op sy kop moet ook van fyn linne gemaak word. Jy moet ook vir hom ’n gordel van geborduurde materiaal maak.

40. “Maak ook vir Aäron se seuns mantels, gordels en tulbande wat aan hulle waardigheid verleen.

41. “Laat Aäron en sy seuns hierdie klere aantrek. Salf hulle en bevestig hulle in hulle ampte. Stel hulle aan om My as afgesonderde priesters te dien.

42. Maak ook vir hulle broeke om onder hierdie klere te dra sodat hulle toe is vanaf die heupe tot by die bobene.

43. Aäron en sy seuns moet elke keer hierdie klere aanhê wanneer hulle in die tabernakel ingaan of na die altaar toe gaan om daar hulle werk te doen. As hulle dit nie aanhet nie, sal hulle sterf. Dit is die vaste reëls vir Aäron en sy nageslag.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 28