Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28:15-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. “Maak ’n borssak om daarmee die wil van die Here te bepaal. Dit moet ’n kunswerk wees, gemaak soos die skouerkleed uit geweefde linne geborduur met gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad.

16. Vou materiaal dubbel om ’n borssak te vorm, 25 sentimeter lank en breed.

17. Jy moet hierop vier rye edelstene vaswerk. In die eerste ry karneool, topaas en smarag.

18. In die tweede ry kom turkoois, saffier en jaspis.

19. In die derde ry kom hiasint, agaat en ametis.

20. In die vierde ry kom chrisoliet, oniks en opaal. Almal word in goud gemonteer.

21. Elkeen van die stene verteenwoordig een van die stamme van Israel. Elke stam se naam moet daarop gegraveer word.

22. “Vir die borssak moet jy van suiwer goud kettinkies maak wat soos tou gevleg is.

23. Maak twee goue ringe vir die borssak en werk dit vas aan die twee hoeke van die borssak.

24. Die twee goue kettinkies moet jy vasmaak aan die twee ringe by die hoeke van die borssak.

25. Maak die ander punte van die kettinkies vas aan die twee monterings en werk dit vas aan die voorkant van die skouerstukke van die skouerkleed.

26. Maak nog twee ander goue ringe en werk dit vas aan die onderste twee hoeke van die borssak, aan die binnekant langs die skouerkleed.

27. Maak nog twee goue ringe en sit dit vas aan die skouerstukke onder aan die voorkant van die skouerkleed bokant die gordel.

28. Werk dan die ringe van die borssak met blou koorde vas aan die ringe van die skouerkleed. Dit sal bokant die gordel van die skouerkleed wees sodat die borssak nie wegskuif van die skouerkleed nie.

29. Sodoende dra Aäron die name van die stamme van Israel in die borssak oor sy hart wanneer hy ingaan in die teenwoordigheid van die Here in die binneste heiligdom. So sal die Here voortdurend herinner word aan sy volk.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 28