Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 24:4-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Moses het alles wat die Here vir hom gesê het, neergeskryf. Hy het vroeg die volgende oggend opgestaan en ’n altaar aan die voet van die berg gaan bou. Hy het rondom die altaar twaalf klippe ingeplant. Dit was vir die twaalf stamme van Israel.

5. Daarna het hy jong Israeliete laat kom en hulle beveel om bulle vir die Here te offer. Dit was brandoffers en vrede-offers vir die Here.

6. Hy het ’n deel van die offerdiere se bloed in houers opgevang. Die ander helfte het hy oor die altaar gesprinkel.

7. Daarna het Moses die Boek van die Verbond gevat en vir die volk daaruit gelees. Hulle het weer almal soos een man geantwoord: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het! Ons sal daarna luister!”

8. Moses het toe van die bloed in die houers gevat en oor die volk gesprinkel. Hy het gesê: “Hierdie bloed bevestig die verbond wat die Here met julle gesluit het toe Hy hierdie woorde vir julle gesê het.”

9. Moses, Aäron, Nadab, Abihu en die 70 leiers uit Israel het toe teen die berg uitgeklim.

10. Daar het hulle die God van Israel met hulle eie oë gesien. Onder sy voete was iets wat gelyk het soos ’n vloer wat met saffierstene uitgelê is. Dit was so helder soos die blou lug.

11. Hulle het Hom gesien en Hy het nogtans niks aan hulle gedoen nie. Daarna het hulle in sy teenwoordigheid geëet en gedrink.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 24