Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 24:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here het vir Moses gesê: “Klim op hiernatoe. Bring Aäron, Nadab, Abihu en 70 leiers van die Israeliete saam met jou. Hulle moet ’n entjie weg staan en My van daar af aanbid.

2. Moses, net jy mag naby aan die Here kom. Die ander mag nie naderkom nie. Die volk self mag glad nie teen die berg uitklim nie.”

3. Moses het na die volk toe afgegaan en vir hulle alles gesê wat die Here beveel het. Hulle het soos een man geantwoord: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het!”

4. Moses het alles wat die Here vir hom gesê het, neergeskryf. Hy het vroeg die volgende oggend opgestaan en ’n altaar aan die voet van die berg gaan bou. Hy het rondom die altaar twaalf klippe ingeplant. Dit was vir die twaalf stamme van Israel.

5. Daarna het hy jong Israeliete laat kom en hulle beveel om bulle vir die Here te offer. Dit was brandoffers en vrede-offers vir die Here.

6. Hy het ’n deel van die offerdiere se bloed in houers opgevang. Die ander helfte het hy oor die altaar gesprinkel.

7. Daarna het Moses die Boek van die Verbond gevat en vir die volk daaruit gelees. Hulle het weer almal soos een man geantwoord: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het! Ons sal daarna luister!”

8. Moses het toe van die bloed in die houers gevat en oor die volk gesprinkel. Hy het gesê: “Hierdie bloed bevestig die verbond wat die Here met julle gesluit het toe Hy hierdie woorde vir julle gesê het.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 24