Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21:11-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. As hy enige van hierdie drie sake nalaat, moet sy vrygelaat word. Sy hoef hom dan niks te betaal nie.”

12. “As iemand ’n ander persoon so beseer dat hy daarvan sterf, moet hy self doodgemaak word.

13. As dit onopsetlik was, sal Ek vir hom ’n plek gee waarheen hy kan vlug.

14. As hy die persoon egter doelbewus aangeval het met die bedoeling om hom dood te maak, moet hy weggevat word om tereggestel te word, selfs al het hy by die altaar kom skuil.

15. “Enigeen wat sy pa of ma aanrand, moet doodgemaak word.

16. “Enigeen wat iemand ontvoer, moet doodgemaak word afgesien daarvan of hy hom klaar verkoop het en of die persoon nog by hom gekry word.

17. “Iemand wat sy pa of sy ma vloek, moet doodgemaak word.

18. “Tydens ’n stryery kan die een die ander een so met ’n klip of met sy vuis bydam dat hy wel nie daarvan doodgaan nie, maar tog in die bed beland.

19. As die beseerde persoon weer later kan opstaan en buite met ’n kruk rondloop, is die persoon wat hom aangeval het, onskuldig. Die persoon wat hom geslaan het, moet egter vergoed vir die tyd wat hy nie kon werk nie en vir hom sorg tot hy weer gesond is.

20. “As iemand sy manlike of vroulike slaaf so met ’n stok slaan dat die persoon daarvan doodgaan, moet die persoon gestraf word.

21. As die slaaf na ’n dag of twee weer op die been is, hoef die eienaar nie gestraf te word nie. Die slaaf is tog die eienaar se eiendom.

22. “As mans met mekaar baklei, kan dit gebeur dat hulle in die proses ’n vrou wat swanger is, omstamp. Sy kan haar baba verloor, maar nie self permanent beseer word nie. Die persoon wat dit veroorsaak het, moet haar man daarvoor vergoed volgens die bepaling van die regters.

23. As daar permanente skade is, moet hy in ooreenstemming met die skade gestraf word. As sy dood is, moet hy self doodgemaak word.

24. ’n Oog wat beseer is, moet met ’n oog se skade vergoed word. As ’n tand verloor is, moet iemand se eie tand uitgeslaan word. ’n Hand se skade moet met ’n hand vergoed word, ’n voet vir ’n voet,

25. ’n brandplek vir ’n brandplek, ’n wond vir ’n wond en ’n kneusplek vir ’n kneusplek.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 21