Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 2:14-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. “Wie is jy nogal?” het die man teruggeantwoord. “Wie het jou as baas en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar gister doodgemaak het?” Moses het geskrik. Hy het vir homself gesê: “Almal weet wat gebeur het.”

15. Die farao het ook van die ding te hore gekom. Hy het opdrag gegee dat Moses gesoek en tereggestel moes word. Moses het egter vir die farao gevlug. Moses het in die landstreek van Midian gaan woon. Terwyl hy daar by ’n put sit,

16. het die priester van Midian se sewe dogters daar kom water skep. Hulle het die drinkbakke vol water gemaak sodat hulle pa se diere kon suip.

17. Daar kom toe mans wat vee oppas en verdryf die meisies van die put af. Moses het die meisies te hulp gesnel en hulle gehelp om hulle vee te laat suip.

18. Toe hulle by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir sy dogters: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?”

19. “Daar was ’n man uit Egipte wat ons teen die mans verdedig het,” sê hulle vir hom. “Hy het ons help water skep en die vee laat drink.”

20. “Nou waar is hy dan?” vra hy vir sy dogters. “Het julle die man dan net daar gelos? Gaan nooi hom uit om saam te kom eet.”

21. Moses het die uitnodiging met graagte aanvaar. Hy het by die man gebly. Na ’n tyd het Reüel sy dogter Sippora vir hom as vrou gegee.

22. Sy het later ’n seuntjie gehad. Moses het hom Gersom genoem. Hy het gesê: “Ek is ’n vreemdeling in ’n vreemde land.”

23. Baie jare het verbygegaan. Daardie koning van Egipte is later dood. Die Israeliete het egter nog steeds gebuk gegaan onder slawewerk. Hulle het om hulp geroep. Hulle gesoebat om bevry te word van die harde werk het na God toe opgestyg.

24. God het gehoor hoe hulle roep. Hy het onthou dat Hy ’n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het

25. en gesien wat met die Israeliete gebeur. Hy was bekommerd oor hulle.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 2