Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 19:10-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. het die Here vir hom gesê: “Gaan weer terug na die volk toe en berei hulle vandag en môre voor om My te ontmoet. Hulle moet hulle klere was.

11. Hulle moet reg wees vir die derde dag, want op daardie dag gaan Ek die Here voor hulle oë na die Sinaiberg toe afkom.

12. Baken die berg reg rondom af. Waarsku hulle: ‘Pas op! Moenie op die berg klim nie. Enigeen wat in die afgebakende deel ingaan, sal beslis doodgemaak word.

13. Niemand mag naby kom nie. As iemand dit doen, moet hy sonder meer met klippe doodgegooi word of met ’n pyl doodgeskiet word. Of dit nou ’n dier of ’n mens is, hy mag nie langer bly lewe nie.’ Wanneer die volk ’n trompet hoor blaas, moet hulle teen die berg begin opklim.”

14. Moses is toe van die berg af na die volk toe. Hy het hulle gereed gekry om God te ontmoet. Hulle moes hulle klere was.

15. Hy het vir hulle gesê: “Maak reg vir ’n belangrike gebeurtenis twee dae van nou af. Bly in hierdie tyd weg van seks af.”

16. Vroeg die oggend van die derde dag was daar donderslae en weerlig. ’n Dik wolk het oor die berg gehang. ’n Trompet het baie hard geblaas. Die volk in die laer was doodbang.

17. Moses het die volk uit die kamp uitgelei om God te gaan ontmoet. Hulle het aan die voet van die berg gaan staan.

18. Die hele Sinaiberg was toe onder die rook toe die Here daarna toe afgekom het in ’n vuur. Die rook het die lug in geborrel soos rook uit ’n oond. Die hele berg het verskriklik geskud.

19. Die trompet het al harder en harder geblaas. Moses het gepraat en God het hom met donderslae geantwoord.

20. Die Here het toe afgekom na die top van die Sinaiberg toe en Moses na Hom toe geroep. Moses het toe teen die berg uitgeklim.

21. Die Here het vir Moses gesê: “Klim weer af en gaan waarsku die volk om nie in die afgebakende gebied in te gaan om na die Here te kyk nie. Baie van hulle sal dan doodgaan.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 19