Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 18:15-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om te hoor wat die Here sê.

16. As daar ’n geskil is tussen twee partye, gee ek uitspraak. Ek sê vir die volk wat God besluit het en wat God wil hê.”

17. Sy skoonpa sê toe vir Moses: “Jy hanteer die saak nie reg nie.

18. Jy en die volk sal die pas nie kan volhou nie. Dit is te veel vir jou. Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie.

19. Luister nou na my raad. Mag God jou help om die volk by Hom te verteenwoordig. Jy moet voortgaan om hulle probleme na Hom toe te bring vir uitsluitsel.

20. Jy moet voortgaan om hulle in te lig oor God se wette en sy voorskrifte. Leer hulle hoe hulle moet lewe en wat hulle moet doen.

21. Maar jy moet ook uit die volk bekwame en eerlike manne kry wat vir die Here wil werk en nie omkoopgeld sal aanvaar nie. Jy moet hulle aanstel om regters te wees oor groepe van onderskeidelik 1 000, 100, 50 en tien mense.

22. Hulle moet dan as regters optree in die alledaagse sake. Vir groter sake moet hulle na jou toe kom. Die gewone sake kan hulle self hanteer. Hulle sal die las van jou skouers afhaal en dit saam met jou dra.

23. As jy so maak en God jou lei om dit so te doen, sal jy die vrag kan dra en almal sal tevrede wees.”

24. Moses het sy skoonpa se raad gevolg en gemaak soos sy skoonpa gesê het.

25. Moses het uit die hele Israel bekwame manne gekies en hulle as leiers oor die volk aangestel oor groepe van onderskeidelik 1 000, 100, 50 en tien mense.

26. Hulle was voltydse regters oor die volk. Groter sake is na Moses toe gebring en kleiner sake het hulle self hanteer.

27. Moses het toe afskeid geneem van sy skoonpa en hy het na sy land toe teruggegaan.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 18