Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Terwyl hulle nog in Egipte was, het die Here vir Moses en Aäron gesê:

2. “Hierdie maand sal van nou af die belangrikste maand wees. Die nuwe jaar moet met hierdie maand begin.

3. Julle moet vir al die Israeliete die opdrag gee dat elke gesin op die tiende van hierdie maand vir hulle ’n lam in die hande moet kry.

4. As daar te min mense in ’n gesin is om ’n lam alleen op te eet, moet hulle dit deel met ’n ander gesin in die omgewing. Dit moet in verhouding verdeel word volgens die getal en behoefte van elke gesin.

5. Dit moet ’n rammetjie wees uit die skape of die bokke wat ’n jaar oud is en waarmee daar niks verkeerd is nie.

6. Sorg vir die rammetjie tot op die veertiende van die maand. Elke gesin in Israel moet teen skemertyd sy rammetjie slag.

7. Hulle moet van die rammetjie se bloed vat en daarvan smeer aan die bokant en sykante van die kosyn van die huis se voordeur waarin hulle dit gaan eet.

8. Die vleis word oor die vuur gebraai. Dit moet nog daardie selfde aand saam met brood wat sonder suurdeeg gemaak is en met kruie geëet word.

9. Die vleis mag nie meer rou wees nie. Dit mag ook nie gekook word nie. Die hele lam moet gebraai word met kop, pote en alles.

10. Daar mag ook niks daarvan oor wees teen die volgende oggend nie. Wat daarvan oorbly, moet voor die volgende oggend verbrand word.

11. “Wanneer julle dit eet, moet julle aangetrek wees om op reis te gaan. Julle moet skoene aanhê en julle kieries moet al in julle hande wees. Eet die kos vinnig. Dit is die Here se Paasfees.

12. Ek sal daardie nag deur Egipte trek en in die land al die oudste seuns en die diere wat eerste gebore is, doodmaak. Ek sal die gode van Egipte straf. Ek is die Here!

13. Die bloed wat julle aan julle kosyne gesmeer het, sal vir My ’n teken wees dat julle daar bly. As Ek dit sien, sal Ek daardie huis oorslaan. Die ramp wat Ek oor Egipte laat kom, sal julle nie tref nie.

14. “Hierdie dag moet altyd gevier word as ’n dag van herinnering. Dit is ’n spesiale feesdag van die Here wanneer julle nageslag moet onthou wat Hy gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12