Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 10:7-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Die farao se amptenare het toe by hom kom kla: “Hoe lank gaan u nog toelaat dat hierdie rampe aangaan? Laat tog die mans gaan dat hulle die Here hulle God kan gaan aanbid. Sien u nie dat Egipte in duie stort nie?”

8. Moses en Aäron is toe weer teruggeroep na die farao toe. “Goed,” het hy gesê, “gaan dan tog en aanbid die Here julle God. Sê net ’n bietjie vir my wie gaan almal saam?”

9. “Ons gaan almal saam, van oud tot jonk,” het Moses geantwoord. “Ons vat ons seuns en ons dogters en al ons beeste en ons vee saam. Ons moet almal deelneem aan die fees vir die Here.”

10. Die farao het geantwoord: “Die Here sal beslis eers vir julle moet help voordat ek julle met al julle afhanklikes net so sal laat gaan. Julle voer een of ander skelm plan in die mou.

11. Nee, net die mans mag gaan om tot die Here te bid. Dit is waarvoor julle gevra het.” Toe het die farao hulle weggejaag.

12. Maar die Here sê vir Moses: “Steek jou hand uit oor Egipte sodat die sprinkane oor die land kan kom. Hulle sal alles wegvreet wat na die haelstorm oorgebly het.”

13. Moses het sy stok oor Egipte uitgesteek. Die Here het die hele dag en ook deur die nag ’n oostewind laat waai. Toe dit oggend word, het die wind die sprinkane begin aanbring.

14. Die sprinkane het op die hele Egipte toegesak. Deur die hele land was dit net sprinkane. Nog nooit in Egipte se geskiedenis is so baie sprinkane gesien nie, ook nooit weer daarna nie.

15. Hulle was oor alles. Die grond was toe onder hulle. Hulle het al die plante en vrugte weggevreet wat na die haelstorm oorgebly het. Daar het nie ’n krieseltjie groenigheid oorgebly nie. Daar was nie ’n boom of ’n plant oor in die hele Egipte nie.

16. Die farao het Moses en Aäron toe dringend laat roep. “Ek het verkeerd gemaak met die Here julle God en met julle,” het hy vir hulle gesê.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 10