Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 7:2-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Wanneer die Here jou God hierdie nasies in jou hande oorgee en jy hulle oorwin, moet jy hulle heeltemal uitwis. Moenie ooreenkomste met hulle sluit nie en moenie hulle genadig wees nie.

3. Moenie met hulle ondertrou nie. Moenie toelaat dat jou dogters en seuns met hulle seuns en dogters trou nie.

4. Hulle sal jou jongmense van My af weglei om ander gode te aanbid. Dan sal die woede van die Here teen jou ontvlam en sal Hy jou vernietig.

5. In plaas daarvan, breek hulle heidense altare af en verwoes hulle heilige klippilare. Kap hulle Asjerapale af en verbrand hulle afgode.

6. Jy is immers ’n heilige volk wat aan die Here jou God behoort. Die Here jou God het jou uit al die volke op aarde gekies om sy eiendomsvolk te wees.

7. “Die Here het jou nie gekies of liefgehad omdat jy meer of groter was as die ander nasies nie. Trouens, jy was die kleinste van al die nasies!

8. Dit was net omdat die Here jou liefgehad het en omdat Hy die eed wat Hy gesweer het aan jou voorouers nagekom het. Dit is die rede waarom die Here jou met sulke verstommende krag gered het uit die slawerny onder die farao in Egipte.

9. Verstaan daarom dat die Here jou God inderdaad God is. Hy is die getroue God wat sy verbond vir duisend geslagte hou. Hy hou nie op om dié mense lief te hê wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam nie.

10. Maar, Hy huiwer ook nie om die mense wat Hom haat, te straf en te vernietig nie.

11. Daarom, gehoorsaam eerder al hierdie opdragte, voorskrifte en bepalings wat ek vandag vir jou gee.

12. “As jy luister na hierdie gebooie en dit getrou gehoorsaam, sal die Here jou God sy verbond van troue liefde met jou nakom, net soos Hy dit plegtig aan jou voorouers beloof het.

13. Hy sal jou liefhê en jou seën en jou ’n groot nasie maak. Hy sal vir jou baie kinders gee en Hy sal jou land en jou diere vrugbaar maak. Wanneer jy aankom in die land wat Hy aan jou voorouers beloof het, sal jy groot oeste van graan, druiwe en olywe hê. Jy sal ook groot troppe beeste, skape en bokke hê.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 7