Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5:19-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. “‘Moenie iets steel nie.

20. “‘Moenie valse verklarings oor jou naaste aflê nie.

21. “‘Moenie jou naaste se vrou begeer nie. Moenie jou naaste se huis of grond, slaaf of slavin, bees of donkie of enigiets anders wat aan jou naaste behoort, begeer nie.’”

22. “Die Here het hierdie woorde met ’n harde stem aan almal van julle gesê. Dit was vanuit die vuur omring met wolke en in stikdonkerte. Dit is al wat Hy toe gesê het. Hy het sy woorde ook op twee kliptafels geskryf en dit vir my gegee.

23. Toe julle die stem uit die donkerte hoor, met die berg wat in vlamme staan, het al julle stamleiers na my toe gekom.

24. Hulle het gesê: ‘Die Here ons God het ons sy glorie en grootheid gewys. Ons het sy stem uit die vuur gehoor. Vandag het ons gesien dat God met mense praat en hulle bly nog leef!

25. Maar nou, waarom sou ons moet doodgaan? As die Here ons God weer met ons sou praat, sal ons verseker doodgaan en verteer word deur die vreeslike vuur.

26. Watter mens kan die stem van die lewende God vanuit die vuur hoor en dit oorleef?

27. Gaan jy en luister na wat die Here ons God sê. Kom dan terug en vertel ons alles oor wat Hy vir jou gesê het. Ons sal luister en daaraan gehoorsaam wees.’

28. “Die Here het julle versoek gehoor en vir my gesê: ‘Ek het gehoor wat die mense vir jou gesê het en hulle is reg.

29. Ag, as hulle maar altyd sulke harte sal hê dat hulle eerbied vir My kan hê en al my gebooie gehoorsaam! As hulle dit doen, sal hulle en hulle nageslag vir altyd voorspoedig wees.

30. Gaan en sê vir hulle om terug te gaan na hulle tente toe.

31. Bly jy hier by My sodat Ek jou al my gebooie, voorskrifte en bepalings kan gee. Jy moet dit vir die volk leer sodat hulle dit kan gehoorsaam in die land wat Ek aan hulle as hulle erfdeel gaan gee.’”

32. Moses het toe vir die volk gesê: “Julle moet al die gebooie van die Here julle God gehoorsaam. Volg sy instruksies noukeurig.

33. Bly op die koers wat die Here julle God julle beveel het om te volg. Dan sal julle lank en voorspoedig lewe in die land wat julle nou in besit gaan neem.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 5