Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 2:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Toe het ons omgedraai en deur die woestyn in die rigting van die Rietsee getrek, net soos die Here my beveel het. Dit het ons lank geneem om óm Seïrberg te trek.

2. Die Here het toe vir my gesê:

3. ‘Julle het nou lank genoeg in die omgewing van die bergwêreld rondgetrek. Draai nou noordwaarts.

4. Gee die volgende opdragte vir die volk: Julle gaan deur die gebied trek wat aan julle broers, die Edomiete, die afstammelinge van Esau wat in Seïr bly, behoort. Die Edomiete sal bedreig voel, maar wees versigtig.

5. Moenie hulle pla nie, want Ek het die bergwêreld in die omgewing van Seïr aan hulle as eiendom gegee. Ek sal nie ’n krieseltjie van hulle land vir julle gee nie.

6. Betaal hulle vir die kos en water wat julle gebruik.

7. Die Here julle God het julle geseën in alles wat julle gedoen het. Hy het die wag gehou oor elke tree wat julle deur die groot woestyn gegee het. Gedurende die 40 jaar was die Here julle God by julle en het Hy in elke behoefte van julle voorsien sodat julle niks kortgekom het nie.’

8. So het ons dan verby ons broers, die afstammelinge van Esau wat in Seïr woon, getrek. Ons het ook die pad vermy wat van Elat en Esjon-Geber deur die Arabavallei kom. “Toe het ons noordwaarts met die woestynroete by Moab verbygetrek.

9. Die Here het ons gewaarsku: ‘Moenie die Moabiete, die afstammelinge van Lot, pla of teen hulle oorlog maak nie. Ek het vir hulle Ar as hulle eiendom gegee en Ek sal niks van hulle land vir julle gee nie.’”

10. Die Emiete het vroeër in die omgewing van Ar gewoon. Hulle was ’n groot en sterk volk van reuse, net so groot soos die Enakiete.

11. Die Emiete en die Enakiete word albei ook die Refaïete genoem, maar die Moabiete noem hulle die Emiete.

12. Vroeër het die Goriete by Seïrberg gewoon, maar hulle is uitgedryf en vervang met die afstammelinge van Esau. Op ’n soortgelyke manier is die volke van Kanaän verdryf uit die land wat die Here vir Israel gegee het.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 2