Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 15:14-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Gee vir so ’n persoon ’n groot afskeidsgeskenk uit jou diere, jou graan op die dorsvloer en van jou wyn in jou parskuip. Deel met hom of haar uit die oorvloed waarmee die Here jou God jou geseën het.

15. Onthou dat jy ook ’n slaaf was in Egipte en dat die Here jou God jou bevry het. Dit is waarom ek hierdie bevel vandag aan jou gee.

16. Veronderstel jou slaaf sê vir jou: ‘Ek wil nie weggaan nie’ omdat hy jou en jou familie leer liefkry het en omdat dit vir hom goed is by jou,

17. moet jy ’n els neem en dit deur sy oorlob teen die deur steek. Dan sal hy lewenslank jou slaaf wees. Dieselfde geld ook vir jou slavinne.

18. “Moenie dit as ’n verlies beskou om jou slaaf vry te laat nie. Onthou dat hy in die ses jaar jou dubbel die loon van ’n gehuurde werker gespaar het. Die Here jou God sal jou seën in alles wat jy doen.”

19. “Jy moet al die manlike eersgeborenes uit jou beeste en kleinvee eenkant sit vir die Here jou God. Jy mag nie die eersgeborenes uit jou beestrop op jou velde laat werk nie en jy mag ook nie die eersgeborenes uit jou kleinvee skeer nie.

20. Jy en jou familie moet dit elke jaar voor die Here jou God gaan eet op die plek wat Hy gekies het.

21. Maar as die eersgebore dier enige liggaamsgebrek soos lamheid of blindheid of enige ander fout het, mag jy dit nie vir die Here jou God offer nie.

22. Eet dit by jou huis. Enigeen, rein of onrein, mag daarvan eet, net soos enigeen ’n ribbok of ’n takbok mag eet.

23. Maar jy mag nie die bloed daarvan eet nie. Jy moet dit soos water op die grond uitgooi.”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 15